Is dit nog moontlik om kinders met goeie sedes groot te maak?
“ONS lewe nou in ’n baie komplekse gemeenskap, ’n baie heterogene kultuur, waarin daar geen eenvormige sedewet is nie”, sê Robert Glossop van die Vanier-instituut vir die Gesin in Ottawa, Kanada. Met watter gevolg? ’n Berig in The Toronto Star sê: “Tienerswangerskappe, jeuggeweld en tienerselfmoorde neem alles toe.”
Die probleem raak ook lande buite Noord-Amerika. Bill Damon, direkteur van die Sentrum vir Menslike Ontwikkeling aan die Brown-universiteit in Rhode Island, VSA, het hierdie kwessies in Brittanje en ander Europese lande sowel as in Australië, Israel en Japan bestudeer. Hy wys na die agteruitgang van kerke, skole en ander instellings wat leiding vir jongmense voorsien. Ons kultuur, meen hy, “het voeling verloor met wat kinders nodig het om hulle karakter en vaardighede te vorm”. Damon verwys na deskundiges op die gebied van ouerskap wat leer dat “dissipline skadelik vir kinders se gesondheid en welsyn is” en sê dat dit “’n resep is om moedswillige, ongehoorsame kinders groot te maak”.
Wat het jongmense van vandag nodig? Hulle het voortdurend liefdevolle opleiding nodig wat die verstand en hart regstel. Verskillende jongmense het verskillende vorme van dissipline nodig. Wanneer liefde die dryfkrag agter dissipline is, kan dit dikwels oorgedra word deur met hulle te redeneer. Dit is waarom Spreuke 8:33 (NW) vir ons sê: “Luister na dissipline.” Maar party laat hulle nie ‘met woorde waarsku nie’. Vir hulle sal die gepaste straf vir ongehoorsaamheid, wat in behoorlike mate toegedien word, dalk nodig wees (Spreuke 17:10; 23:13, 14; 29:19). Wanneer die Bybel dit aanbeveel, keur dit nie loesings of kwaai slae wat in woede toegedien word en ’n kind kan kneus en beseer, goed nie (Spreuke 16:32). ’n Kind moet eerder verstaan waarom hy tereggewys word en begryp dat dit is omdat die ouer aan sy kant is.—Vergelyk Hebreërs 12:6, 11.
Die boek Die geheim van gesinsgeluk vestig die aandag op sulke praktiese en betroubare Bybelraad.