’n Lamp om jou op die pad van die lewe te lei
“EK WEET o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Met hierdie woorde het die profeet Jeremia getoon dat die mens nie sonder hulp suksesvol op die pad van die lewe kan loop nie. Waar kan sulke hulp gevind word? Die psalmis antwoord in sy gebed tot Jehovah God: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.”—Psalm 119:105.
Diegene wat God se Woord, die Heilige Bybel, bestudeer en toepas wat dit sê, sal soos iemand wees wat ’n reis vroeg in die oggend begin. Eers kan hy nie veel sien nie omdat dit donker is. Maar wanneer die son begin opkom, sien hy al hoe meer. Uiteindelik skyn die son reg van bo. Hy sien alles in duidelike besonderhede. Hierdie illustrasie laat ’n mens aan ’n Bybelspreuk dink: “Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe.”—Spreuke 4:18.
Wat van diegene wat God se leiding verwerp? Die Bybel sê: “Die weg van die goddelose [is] soos duisternis: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie” (Spreuke 4:19). Ja, die goddelose is soos die man wat in die donker struikel. Selfs hulle oënskynlike suksesse is hoogstens tydelik, want “daar is geen wysheid, en daar is geen verstand, en daar is geen raad teenoor die HERE nie”.—Spreuke 21:30.
Volg dus die leiding van God se Woord, die Bybel. As jy dit doen, sal jy sien dat die woorde van Spreuke 3:5, 6 waar is: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.”