Vrae van lesers
Verskyn die Tetragrammaton (die vier Hebreeuse letters van God se naam) in die Hebreeuse manuskrip van Matteus wat deur die 14de-eeuse Joodse geneesheer Sjem-Tob ben Isak Ibn Sjaproet oorgeskryf is?
Nee, dit verskyn nie daar nie. Hierdie manuskrip van Matteus gebruik egter 19 keer die uitdrukking hasj·Sjem’ (uitgeskryf of afgekort), soos Die Wagtoring van 15 Augustus 1996 op bladsy 13 getoon het.
Die Hebreeuse hasj·Sjem’ beteken “die Naam”, wat ongetwyfeld na die Goddelike naam verwys. In Sjem-Tob se manuskrip verskyn ’n afgekorte vorm van hasj·Sjem’ byvoorbeeld in Matteus 3:3, ’n skrifgedeelte waarin Matteus Jesaja 40:3 aangehaal het. Dit is redelik om tot die gevolgtrekking te kom dat Matteus die Goddelike naam in sy Evangelie ingesluit het wanneer hy ’n vers uit die Hebreeuse Geskrifte aangehaal het waarin die Tetragrammaton gevind word. Hoewel Sjem-Tob se Hebreeuse manuskrip dus nie die Tetragrammaton gebruik nie, steun dit die gebruik van “Jehovah” in die Christelike Griekse Geskrifte aangesien dit “die Naam” gebruik, soos in Matteus 3:3.
Sjem-Tob het die Hebreeuse manuskrip van Matteus oorgeskryf in sy twisgeskrif ʼEʹven boʹchan. Maar wat was die bron van daardie Hebreeuse manuskrip? Professor George Howard, wat hierdie saak uitvoerig nagevors het, sê dat “Sjem-Tob se Hebreeuse Matteus moontlik uit die een of ander tyd in die eerste vier eeue van die Christenera dateer”.a Ander verskil moontlik met hom hieroor.
Howard sê: “Die Hebreeuse Matteus wat in hierdie manuskrip opgeneem is, word veral gekenmerk deur die talle verskille met die kanonieke Griekse Matteus.” Byvoorbeeld, volgens Sjem-Tob se manuskrip het Jesus van Johannes gesê: “Voorwaar, ek sê vir julle, onder almal wat uit vroue gebore is, het niemand opgestaan wat groter as Johannes die Doper is nie.” Dit laat Jesus se volgende woorde uit: “Maar iemand wat ’n mindere in die koninkryk van die hemele is, is groter as hy” (Matteus 11:11). Op ’n taamlik soortgelyke manier is daar talle verskille tussen die bestaande Hebreeuse manuskrip van die Hebreeuse Geskrifte en die bewoording in die ooreenstemmende manuskrip van die Griekse Septuagint-weergawe. Hoewel ons hulle verskille erken, is sulke antieke manuskripte redelik nuttig wanneer vergelykende studie gedoen word.
Soos genoem is, sluit Sjem-Tob se manuskrip van Matteus “die Naam” in waar daar goeie rede is om te glo dat Matteus eintlik die Tetragrammaton gebruik het. Gevolglik dien Sjem-Tob se manuskrip al sedert 1950 as grond vir die gebruik van die Goddelike naam in die Christelike Griekse Geskrifte, en word dit nog steeds in The New World Translation of the Holy Scriptures—With References as verwysing aangegee.b
[Voetnote]
a Sien ook New Testament Studies, Deel 43, Nommer 1, Januarie 1997, bladsye 58-71.
b In 1984 uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.