“Juwele van waarheid”
“Juwele van waarheid.” Dít is hoe ’n brief aan die Nigeriese takkantoor van Jehovah se Getuies twee spesiale tydskrifte beskryf het. Die skrywer, ’n jong man, verduidelik:
“Ek skryf om my opregte dank uit te spreek vir julle pogings om feitlik alle aspekte van die alledaagse lewe deur middel van Die Wagtoring en Ontwaak! te dek.
“Ek is 17 jaar oud. Verlede jaar het ’n plaaslike radiostasie ’n opstelkompetisie gereël met die tema ‘Liefde behels meer as seks—vigs is ’n werklikheid’. Elke opstel moes uit nie minder as vierhonderd woorde bestaan nie. ’n Prys van 1,000 naira [R58,50] sou vir die beste opstel gegee word. Hulle het gesê dat mense natuurlik nie net moes skryf om ’n prys te wen nie, maar eerder om iets te leer. . . .
“Ek het inligting oor vigs in albei tydskrifte gevind. Daar was ’n oorvloed artikels oor liefde. Ek het gedagtes uit die Ontwaak! van 8 Desember 1978 gebruik.
“Skaars twee maande nadat ek my opstel ingestuur het, het die uitslag verskyn. Tot my verbasing was ek die wenner in die state Cross River en Akwa Ibom!
“Al die inligting wat ek gebruik het, het uit die tydskrifte gekom. Dit is werklik wonderlik dat Jehovah vir ons tydige inligting in hierdie veelbewoë en siek wêreld voorsien. As ware Christene weet ons dat liefde veel meer as seks behels. En om ’n rein, sedelike lewe te lei, beskerm ons natuurlik teen siektes soos vigs.
“Ek kan nie anders as om julle te bedank vir hierdie juwele van waarheid wat julle so onvermoeid verskaf nie. Mag Jehovah voortgaan om julle pogings te seën terwyl julle hierdie kosbare tydskrifte aanhou voorsien.”