Wanneer Jehovah se Getuies besoek aflê
Wat moet Katolieke doen wanneer een van Jehovah se Getuies hulle by hulle huis besoek? ’n Onlangse publikasie wat saamgestel is deur die Nasionale Kategetiese Buro van die Italiaanse Kongres van Biskoppe sê: “As ’n mens vriendelik dog ferm weier om te gesels, is dit in hierdie geval nie ’n gebrek aan mensliewendheid nie.”
Nie alle Katolieke stem saam nie, soos getoon is deur ’n brief wat ’n man van Foggia, Italië, aan die dagblad Gazzetta del Mezzogiorno gestuur het:
“Ek is nie een van Jehovah se Getuies nie. Ek is ’n Katoliek. Maar ek staan verstom oor sekere reëls wat die kerk die gelowiges oplê deur vir hulle te sê om plakkertjies op hulle deure te plak wat Jehovah se Getuies wegstuur. Hierdie mense maak op stuk van sake slegs God se Woord bekend, en hulle help ander om ’n dieper kennis van die Bybel te verkry. Dit herinner my aan die tyd toe Italië deur cholera geteister is en ons raad gekry het oor hoe om besmetting te voorkom.
“Na my mening toon dit dat die kerk sy eie reëls voorskryf sonder om die wense van die gelowiges in ag te neem. Maar dit is nou al ’n paar jaar dat ek sien hoe selfs Katolieke van huis tot huis gaan en ook die huise van Jehovah se Getuies besoek; en hulle nooi hulle in en gesels met hulle sonder om enigeen weg te wys.”
Jehovah se Getuies dwing mense nie om hulle boodskap te aanvaar nie. Hulle probeer eerder aan ander die hoop oordra wat in God se Woord gebied word en wat hulle self in hierdie moeilike tye vertroostend gevind het. Deur van huis tot huis te gaan, sowel as met diegene te praat wat hulle op straat ontmoet, verkondig Jehovah se Getuies die goeie nuus van God se Koninkryk aan mense wat bereid is om te luister.—Matteus 24:14; Handelinge 5:42; 17:17.