Koninkryksverkondigers berig
‘Laat julle lig voor die mense skyn’
IN SY Bergpredikasie het Jesus vir sy dissipels gesê: “Julle is die lig van die wêreld.” Hy het hulle verder aangespoor: “Laat julle lig . . . voor die mense skyn, sodat hulle julle voortreflike werke kan sien en heerlikheid kan gee aan julle Vader wat in die hemele is.”—Matteus 5:14-16.
In Italië het die voortreflike werke van Jehovah se Getuies nie onopgemerk gebly nie. Byvoorbeeld, hulle goeie gedrag wanneer hulle hulle jaarlikse streekbyeenkomste bywoon, strek God tot eer, soos die volgende verslae bevestig:
▪ ’n Vrou in Terni, Italië, het haar dogter jare lank gehelp om ’n kafee te bestuur wat naby die stadion in daardie stad geleë is. Sy vertel: “Ek het ’n groot verskil opgemerk tussen die mense wat vir sokkerwedstryde gekom het en dié wat die byeenkomste van Jehovah se Getuies daar bygewoon het. Die Getuies het meer beskeie aangetrek, en hulle was eerlik en beleef. Ek het dikwels gewonder hoe mense van verskillende rasse so goed oor die weg kon kom.
“Eendag het ’n Getuie my op straat genader en gevra of ek weet wat God se naam is. Ek het nie geweet nie, en omdat ek geweet het dat Jehovah se Getuies goeie mense is, het ek ingestem dat sy my besoek. Ek het vrae oor die toestand van die dooies gehad, wat sy uit die Bybel beantwoord het. Ek het sonder aarseling ’n Bybelstudie aanvaar, en twee weke later het ek vergaderinge begin bywoon.
“Aan die begin het my dogter my teëgestaan, maar my gedrag en vasbeslotenheid het haar gesindheid verander. Ek het nege maande gelede begin studeer. Vandag betuig my dogter en haar man hulle waardering teenoor hulle Getuieklante. En ek is tydens ’n byeenkoms in hierdie stadion gedoop.”
▪ Ná ’n byeenkoms in Roseto degli Abruzzi het die bestuurder van ’n kampeerterrein gesê: “Ek het opgemerk dat Jehovah se Getuies baie eerlik is in alles wat hulle doen. Ek het verlede week 40 van hulle in my kampeerterrein gehad, en hulle het nie ’n enkele probleem geskep nie. Inteendeel, hulle is die enigstes wat vir jou kom sê as hulle ’n ekstra persoon in hulle karavaan of tent het. Ek dink hulle is die beste klante wat jy kan kry.”
▪ Ná dieselfde byeenkoms het ’n hotelbestuurder gesê: “Jehovah se Getuies is almal vreedsaam. Hulle is nie lawaaierig nie en hulle gaan vroeg bed toe. Hulle is werklik vriendelik, eerlik en goed gemanierd. Dit sou wonderlik gewees het as almal soos hulle was. Ander mense steel alles—blompotte, asbakkies, selfs toiletpapier en suiker! Dit het nog nooit met julle gebeur nie. Wanneer julle kinders saans roomys uit die yskas haal, gaan kyk ek nie eers wat hulle geneem het nie. Hulle werk uit wat hulle my skuld en kom onmiddellik betaal. Ek het die grootste vertroue in hulle. Hoe wonderlik sou dit tog gewees het as ander mense ook so was! Ek wens al my gaste was Jehovah se Getuies.”
Jehovah se Getuies is welbekend in Italië, soos in baie ander dele van die wêreld. Hulle “handhaaf voortreflike gedrag onder die nasies”, en verheerlik sodoende die ware God, wie se naam hulle dra.—1 Petrus 2:12.