“Nou waar is julle kerk dan?”
JEHOVAH SE GETUIES in Mosambiek word dikwels hierdie vraag gevra. Om die waarheid te sê, was dit tot onlangs nog ’n moeilike vraag om te beantwoord. Dit was omdat Jehovah se Getuies nie voor 1991 wetlike erkenning in hierdie land geniet het nie. Dit was gevolglik nie moontlik om duidelik identifiseerbare en gevestigde plekke van aanbidding te hê nie.
Daardie situasie het egter op 19 Februarie 1994 verander. Op daardie warm, sonnige dag is die eerste twee Koninkryksale wat in Mosambiek gebou is, toegewy. Daar was altesaam 602 mense teenwoordig by die toewyding van hierdie pragtige vergaderplekke in die hawestad Beira, ongeveer halfpad teen die Mosambiekse kus op. Hulle sal in die behoeftes voorsien van die drie gemeentes in daardie stad.
Die hele projek, vandat die fondament gelê is totdat die geboue voltooi is, het ’n jaar en twee maande se harde werk geverg. Daar het dikwels 30 of meer vrywilligers van hulle buurland Zimbabwe af gekom en skouer aan skouer met die plaaslike Getuies gewerk. Aangesien hulle nie almal in die sendinghuis in Beira, wat as die basis vir die werksaamhede gedien het, gehuisves kon word nie, het sommige oor naweke en soms weke lank om die huis gekampeer.
Die Koninkryksale van die Massamba- en Munhava-gemeentes is in die hoofstraat van Beira geleë. “Op ’n besige dag”, het ’n sendeling vertel, “wanneer die werk fluks gevorder het en die vordering baie merkbaar was, het ons gesien hoe bestuurders wat verbyry en na die Koninkryksaal staar van hulle stuurwiel vergeet en byna ’n ongeluk veroorsaak.” Baie het wel stilgehou om die werk dop te hou, en hulle was veral beïndruk deur die verskillende rasse wat saam in eenheid werk.
Die werk het baie beplanning en organisasie geverg. Anders as baie ander projekte in hierdie deel van die wêreld, waar materiaal en middele skaars is, het werk aan die Koninkryksale nooit weens ’n gebrek aan voorraad tot stilstand gekom nie. By een geleentheid het hulle 800 sakke sement nodig gehad, en die enigste plek wat dit kon voorsien, het nie die nodige sakke gehad om die sement in te sit nie. Die broers het met die Wagtoringgenootskap se takkantoor in die hoofstad, Maputo, in aanraking gekom; sakke is per vliegtuig gestuur, na die sementfabriek geneem en volgemaak. Die werk het onverpoos voortgegaan.
By ’n ander geleentheid, toe dakkappe aangebring is, het die span nie genoeg staalbalke gehad nie. Omdat dit so moeilik is om staal in die hande te kry, is staal vir die projek 600 kilometer daarvandaan ingevoer! ’n Man wat na die werk gestaan en kyk het, is deur een van die spanlede genader en gevra of hy dalk weet waar hulle staal kan kry om die werk te voltooi. Die man het geantwoord: “Ek staan al langer as ’n uur hier en dit is blykbaar nie toevallig nie. Ek kan nie anders as om die werk wat julle doen en die gees van hierdie projek te bewonder nie. Ek het nét die staal wat julle nodig het en ek sal dit met graagte aan julle skenk.” Dit was ’n baie tydige voorsiening.
Baie waarnemers het gewonder watter groot konstruksiefirma in beheer van die projek gestaan het. Die span het hulle natuurlik met groot genoeë vertel dat dit Jehovah se Getuies is wat hulle dienste vrywillig aanbied. Wat het die waarnemers veral beïndruk? “Julle is ’n verenigde volk”, het een gesê. “Al behoort julle aan verskillende rasse, werk julle as broers saam.” Baie het gevolglik kom vra vir ’n Bybelstudie. Dit het ook ’n uitwerking op die vergaderinge gehad. Die gemiddelde vergaderingbywoning van die Manga-gemeente is byvoorbeeld meer as dubbel die aantal Getuies.
Die nuwe Koninkryksale is waarlik ’n groot seën vir die plaaslike Getuies. Die meeste het voorheen in primitiewe plekke vergader, met gras of ’n paar sinkplate vir ’n dak, in ’n agterplaas of in ’n klein kamertjie van ’n woonhuis. Hulle het dikwels nat geword wanneer dit gereën het; tog het hulle die vergaderinge getrou bygewoon. Dekades lank was dit die enigste “Koninkryksale” wat die Getuies in Mosambiek geken het. Broer Caetano Gabriel, ’n ouer man in die Massamba-gemeente, het gesê: “Ons is dankbaar teenoor ons broers oor die hele wêreld wat bygedra het om hierdie projek ’n werklikheid te maak.” Een jong Getuie het vertel: “Toe ons in Carico was (in “heropvoedingskampe” waar Jehovah se Getuies ongeveer 12 jaar lank geïnterneer is), het ons altyd gesê: ‘Ons sal getrou volhard en Jehovah sal ons beloon.’ Die nuwe Koninkryksaal is ’n beloning van Jehovah.” Hulle woorde weerspieël hulle diepe waardering en hulle vasbeslotenheid om Jehovah te loof.
Talle jongmense wat met die konstruksiewerk gehelp het, is met die pioniergees besiel en het aan die einde van die projek die gewone pionierdiens betree. Isabel, ’n jong gewone pionier in die Manga-gemeente, het ’n dag voor die toewyding na die silwerskoon Koninkryksaal gekyk en gesê: “Dit is vir my die heel mooiste plek in Beira. Om hier te wees, verskaf aan my die grootste vreugde.” Adão Costa, ’n sendeling, het verduidelik dat die plaaslike owerheid uiters behulpsaam was deur spesiale invoerprosedures toe te laat omdat hulle bewus was van die Getuies se eerlikheid. Toe het hy bygevoeg: “Hoewel ons baie moeg geword het, was dit ’n vreugde om die vrugte te sien van al hierdie werk wat tot eer en verheerliking van Jehovah strek.”
Wanneer ’n vriendelike inwoner van Beira vandag vra: “Nou waar is julle kerk dan?” beduie hulle vir hom waar een van die twee nuwe Koninkryksale is en antwoord dan iets soos: “Dit is op die internasionale pad, Avenida Acordo de Lusaka, reg oorkant die Fourth Squadron-polisiestasie.” Dan stel hulle een ding reg: “Maar dit is nie ’n kerk nie. Dit is ’n Koninkryksaal!”
[Kaart/Prente op bladsy 20]
AFRIKA
Mosambiek
Beira
Maputo
[Erkenning]
Map: Mountain High Maps® Copyright © 1995 Digital Wisdom, Inc.