Die reg op ingeligte toestemming word herbevestig
’NONLANGSE uitspraak deur die Regter vir Voorlopige Ondersoeke van die Hof in Messina, Italië, het herbevestig dat ’n volwasse pasiënt se mediese wense vir dokters bindend is. Die beslissing is gegee in ’n saak waarby een van Jehovah se Getuies betrokke was.
In Januarie 1994 is daar met Antonino Stellario Lentini, ’n 64-jarige Getuie wat ’n hemofilie-lyer was, na ’n hospitaal in Taormina, Messina, gehaas. Antonino se vrou, Catena, het vir die hospitaalpersoneel gesê dat sy en haar man, as Getuies van Jehovah, nie tot behandeling deur middel van ’n bloedoortapping sou instem nie (Handelinge 15:20, 28, 29). Hulle wense is gerespekteer.
Terwyl Antonino egter na ’n ander gesondheidsorgsentrum oorgeplaas is, het hy opgehou om asem te haal en was sy toestand by sy aankoms kritiek. Hy het kort daarna gesterf. Catena was verpletterd, maar die Bybel se belofte van ’n opstanding was vir haar ’n groot vertroosting (Handelinge 24:15). Toe, tot haar groot verbasing, het die landdroste—wat miskien deur die media se onjuiste nuusverspreiding mislei is—haar daarvan beskuldig dat sy haar man se dood veroorsaak het deur ’n operasie wat die dokters as noodsaaklik beskou het vir hom te weier.
Ná meer as ’n jaar, op 11 Julie 1995, is Catena vrygespreek aangesien sy geen misdaad gepleeg het nie. Trouens, die getuienis van gesaghebbendes het daarop gedui dat ’n operasie in elk geval nutteloos sou gewees het as ’n mens die toestand van die pasiënt in ag neem.
Maar die regter se opmerkings het die ware geskilpunt aangeraak. Hy het daarop gewys dat dit moeilik is om die idee te aanvaar dat mediese personeel moet ingryp wanneer die pasiënt of die persone wat hom verteenwoordig behandeling weier. Die mediese etiek in Italië, het hy bygevoeg, “erken hoe noodsaaklik dit is om voor enige ingryping die ingeligte toestemming van die betrokke persoon te hê”. Hy het dus gesê dat Catena “wetlik verhinder het dat haar man aan so ’n operasie onderwerp word”.
Hierdie beslissing herbevestig ’n volwassene se reg om mediese behandeling te weier wat in stryd is met sy of haar wense.