“’n Wonderlike gawe van Jehovah af”
Die Wagtoring van 1 Mei 1996 het ’n breedvoerige bespreking gehad van Christelike neutraliteit en hoe ons ons verantwoordelikhede teenoor Jehovah en teenoor “Caesar” in ewewig kan hou (Matteus 22:21). Baie het hulle waardering uitgespreek vir die nuwe inligting wat voorsien is. ’n Voorbeeld hiervan is die volgende brief wat ’n Getuie in Griekeland geskryf en aan die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies geadresseer het:
“Ek wil my innige dankbaarheid betuig aan al julle dierbare broers wat geestelik so goed na ons omsien. Aangesien ek weens my Christelike geloof al ongeveer nege jaar in die gevangenis deurgebring het, waardeer ek werklik die wonderlike gedagtes in Die Wagtoring van 1 Mei 1996 (Jesaja 2:4). Dit was ’n wonderlike gawe van Jehovah af.—Jakobus 1:17.
“Terwyl ek hierdie artikels gelees het, het ek ’n kommentaar in ’n vroeëre Wagtoring onthou (1 Augustus 1994, bladsy 14): ‘Dit is duidelik dat redelikheid ’n kosbare eienskap is, ’n eienskap wat ons beweeg om Jehovah selfs liewer te hê.’ Ja, broers, ek dank Jehovah dat ek deel is van sy goedhartige en liefdevolle organisasie wat ongetwyfeld sy wysheid weerspieël.—Jakobus 3:17.
“Die helderder lig in Die Wagtoring van 1 Mei is hier in Griekeland goed ontvang, veral deur diegene wat etlike jare in die gevangenis deurgebring het of wat nog steeds weens hulle geloof in die gevangenis is. Ek dank julle weer eens. Mag Jehovah julle versterk met sy gees om voort te gaan om kosbare geestelike voedsel in hierdie moeilike tye aan ons te voorsien.”