“Ons almal behoort tot dieselfde familie”
IN ONLANGSE jare het godsdiensvooroordeel en rassisme oor die hele aarde versprei. Etniese verskille het slagtings, marteling en ander skandelike gruweldade ontketen. Volgens ’n verslag deur Amnestie Internasionaal het die skending van menseregte wêreldwyd meer as 23 miljoen mense gedwing om in 1994 van hulle huise af weg te vlug.
In Rwanda alleen is ongeveer 500 000 mense doodgemaak en het meer as 2 000 000 ander mense vlugtelinge geword nadat geweld tussen die Tutsi’s en die Hutu’s uitgebreek het. “Jehovah se Getuies is veral vervolg”, sê die Belgiese koerant Le Soir, “omdat hulle weier om die wapen op te neem.” Jehovah se Getuies neem nie aan gewapende konflikte deel nie. Nogtans het honderde van hulle in die geweld omgekom. Dit herinner ons aan Jesus se woorde aan sy dissipels: “Omdat julle geen deel van die wêreld is nie, . . . haat die wêreld julle.”—Johannes 15:19.
Een Getuiegesin—Eugène Ntabana, sy vrou en twee kinders—het in die hoofstad, Kigali, gewoon. Wanneer Eugène Christelike neutraliteit aan sy bure verduidelik het, het hy dikwels van die bougainvillea gepraat, ’n rankplant wat in warm klimate floreer.—Matteus 22:21.
“Hier in Kigali”, het Eugène verduidelik, “bring die bougainvillea rooi, pienk en soms wit blomme voort. Tog behoort hulle almal tot dieselfde familie. Dit is dieselfde met mense. Ons ras, velkleur of etniese agtergrond verskil, maar ons almal behoort tot dieselfde familie, die mensegemeenskap.”
Dit is tragies dat die Ntabana-gesin, ondanks hulle vreedsame geaardheid en neutrale standpunt, deur ’n bloeddorstige skare vermoor is. Hulle het nietemin getrou gesterf. Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah God sy belofte aan sulkes sal vervul en dat hulle opgewek sal word om ’n wêreld te beërf waar daar nie meer vooroordeel sal wees nie (Handelinge 24:15). Dan sal die Ntabana-gesin, saam met ander, “hulle verlustig oor groot vrede”.—Psalm 37:11.