“Moenie hulle wegjaag nie!”
“AS EEN van Jehovah se Getuies, of selfs twee, jou deurklokkie lui, moenie hulle wegjaag nie!” raai Corriere della Sera mense aan. Die koerant het na ’n voorval in Treviso, noordelike Italië, verwys, waartydens ’n sakeman meer as ’n miljoen lire (meer as R2 600) kon verloor het omdat hy twee Getuies wat hom kom besoek het, weggejaag het.
Volgens die koerant het twee Getuies hulle aan die man voorgestel met die woorde: “Vandag is ’n goeie dag vir jou. Ons is Jehovah se Getuies, en ons het iets waardevols om vir jou te gee.” Hierop het die onvriendelike sakeman die deur toegeklap, sonder om hulle toe te laat om klaar te praat.
As die man na hulle geluister het, sou hy uitgevind het dat die Getuies na sy huis toe gekom het om sy notebeurs terug te gee wat hulle op ’n parkbankie gevind het. Die Getuies kon dus niks anders doen as om die notebeurs en die inhoud daarvan na die naaste polisiestasie te neem nie. Die polisie het dit die volgende dag aan die wettige eienaar terugbesorg.
“As iemand anders in die twee ongelukkige [Getuies] se skoene gestaan het”, het Il Gazzettino di Treviso gesê, “sou hy waarskynlik . . . die aansienlike inhoud van die notebeurs gehou het. Maar nie Jehovah se Getuies nie, want hulle moet heeltemal eerlik wees.”
Wat beweeg Jehovah se Getuies om “heeltemal eerlik” te wees? Dit is hulle liefde vir God en vir hulle naaste, in ooreenstemming met die leringe van Jesus Christus (Matteus 22:37-39). Dit is ook waarom Jehovah se Getuies van huis tot huis gaan om die goeie nuus aangaande die wonderlike “nuwe aarde” te verkondig wat Jehovah God belowe het. So ’n boodskap van hoop is baie waardevoller as enige materiële besitting!—2 Petrus 3:13.