Is jy gered?
JOHNNY was tien jaar oud toe ’n man hom by ’n kermis voorgekeer en gevra het: “Jong man, neem jy Jesus Christus as jou Here en Saligmaker aan?” Aangesien Johnny nog altyd in Jesus geglo het, het hierdie vraag nogal vreemd vir hom geklink. Hy het dus geantwoord: “Natuurlik.” “Prys die Heer!” het die man uitgeroep sodat almal hom kon hoor. “Nog ’n siel vir Christus gered!”
Is redding werklik so eenvoudig? Was Johnny “gered” van die oomblik wat hy daardie woorde gesê het, ongeag wat hy vir die res van sy lewe sou doen? Talle opregte mense sal ja antwoord. Party godsdienstraktate sê ’n mens moet die datum waarop jy “gered” is, neerskryf sodat jy dit kan onthou.
’n Geestelike het geskryf dat “jou lot vir goed bepaal word . . . op die oomblik wat jy Christus aanneem”. Hy het beweer dat redding volgens die Bybel afhang van ’n enkele, eenmalige “geloofsdaad en nie van voortgesette geloof nie”. ’n Ander godsdiensskrywer het geskryf: “Dit is ’n voltooide werk. Dit is reeds vir jou gedoen . . . Jou ‘stryd is verby’. Jou ‘sonde is weggeneem’.” Maar selfs mense wat vas oortuig is dat dit waar is, sien dalk ’n probleem hier. Dit is duidelik dat baie mense vir wie daar gesê is dat hulle “gered” is, nie lewe soos die Bybel sê hulle moet nie. ’n Algemene verduideliking is dat hulle Christus miskien nie werklik “aangeneem” het nie.
Wat beteken dit dan werklik om Jesus “aan te neem”? Is dit ’n eenmalige geloofsdaad of is dit ’n volgehoue lewenswyse? Moet ons geloof sterk genoeg wees om ons tot dade aan te spoor? Kan ons werklik die voordele van Jesus se offerande aanneem sonder die verantwoordelikheid om hom na te volg?
Baie mense wil die seëninge hê, maar nie die verantwoordelikheid om Jesus na te volg en te gehoorsaam nie. Trouens, die woord “gehoorsaam” ontstel hulle dikwels. Tog het Jesus gesê: “Kom word my volgeling” (Lukas 18:18-23). En die Bybel sê: “Dié wat die goeie nuus oor ons Here Jesus nie gehoorsaam nie . . . , sal as regterlike straf ewige vernietiging ondergaan.”—2 Tessalonisense 1:8, 9; Matteus 10:38; 16:24.
Die Bybel sê baie dinge wat ernstige vrae laat ontstaan oor wat mense aangaande redding geleer is. As jy graag wil vasstel wat die Bybel werklik oor hierdie onderwerp sê, sal jy die volgende bladsye besonder interessant vind. Maak jou Bybel oop en lees die tekste wat aangegee word sodat jy kan sien wat Jesus en sy apostels aangaande hierdie lewensbelangrike saak geleer het.