‘Moenie onder ’n ongelyke juk kom nie’
DIE twee bulle in hierdie foto het geweldige krag wat hulle in staat stel om swaar vragte met gemak te trek. Maar gestel een van die bulle word deur ’n donkie vervang. Omdat ’n donkie kleiner en swakker as ’n bul is, sal hy hom waarskynlik teësit deur teen die tuig te skop wat hom in hierdie ongelyke juk hou. God se wet aan Israel het dus met goeie rede gesê: “Jy mag nie met ’n os en ’n esel tegelyk ploeë nie.”—Deuteronomium 22:10.
Die apostel Paulus het iets soortgelyks omtrent mense gesê. Hy het gesê: “Moenie saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk kom nie” (2 Korintiërs 6:14). Dit moet veral in gedagte gehou word wanneer ’n mens ’n huweliksmaat kies. Die huwelik is ’n permanente verhouding, want Jesus Christus het gesê: “Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” (Matteus 19:6). Dit lei tot baie verdriet wanneer ’n egpaar nie dieselfde geloofsopvattings, beginsels en doelwitte het nie. Daarom is dit maar net redelik om ag te slaan op die Bybel se vermaning om “net in die Here” te trou (1 Korintiërs 7:39). Wanneer jy in die huwelik tree met iemand wat nie dieselfde godsdiensoortuiging as jy het nie, is dit ’n selfs groter probleem as om ’n bul saam met ’n donkie in te span.
Verskillende geloofsopvattings is maar een faktor wat kan maak dat ’n egpaar onder ’n ongelyke juk is. Al het voornemende huweliksmaats dieselfde godsdiensoortuiging, sal dit raadsaam wees om te vra: ‘Het ons dieselfde doelwitte? Waar sal ons woon? Wie sal na die begroting omsien? Sal ons albei werk? Wat van kinders? Sal daar goedhartigheid en bedagsaamheid in die verhouding wees?’
Die manier waarop sulke geskille bespreek word, kan tot ’n mate aandui of ’n juk gelyk of ongelyk sal wees. Daar is natuurlik nêrens twee mense wat heeltemal dieselfde is nie. Maar as ’n paartjie wat mekaar die hof maak hulle probleme saam kan aanpak en oplos en openhartige kommunikasie kan behou, sal hulle waarskynlik nie onder ’n ongelyke juk wees nie.