Jehovah se Getuies in alle wêrelddele—Nieu-Seeland
KAN eilande Jehovah loof? Ja, volgens Jesaja 42:10: “Sing tot eer van die HERE ’n nuwe lied, sy lof van die einde van die aarde af . . . [julle] eilande en bewoners daarvan.” Die eilande waaruit Nieu-Seeland bestaan, loof Jehovah beslis. Nieu-Seeland wat wêreldbekend is vir sy mere, fjords, hemelhoë berge, gletsers, strande, varingbedekte reënwoude en welige weivelde getuig van die majesteit en grootsheid van die Skepper van hemel en aarde.
Van kort ná die eeuwisseling af het al hoe meer inwoners van Nieu-Seeland Jehovah ook begin loof deur ware aanbidding te beoefen en die goeie nuus van God se Koninkryk aan ander te verkondig. Onlangs het ’n Getuie wat ’n goeie ondervinding gehoor het oor hoe daar vir familielede getuig is, besluit om sy familie te probeer help. Hy het vir ’n hele paar familielede die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe as geskenk gegee. Die resultate tot dusver? Hy sê dat sy een suster en een broer nou die Bybel bestudeer, ’n neef is as een van Jehovah se Getuies gedoop en ander is nou ontvankliker vir die waarheid van God se Woord. Hy het nog steeds ’n groot veld om te dek; buiten sy ouers het hy nog ses broers en nege susters!
Jehovah word ook geloof wanneer die Getuies saamspan om Koninkryksale te bou. Die koerantrubriekskrywer Roy Perkins het byvoorbeeld in die Opotiki News van 17 Mei 1994 geskryf: “As ’n ongelowige was ek baie beïndruk deur die werk en inspanning van al die toegewyde werkers wat vanweë die liefde vir hulle God soveel tyd en energie aan die projek bestee het.
“Gedurende al hierdie ure wat hulle die naweek gewerk het, het ek nie een vakbondgeskil gesien of gehoor nie . . . Vroue was op die steiers en het saam met die mans gewerk; hulle het voegstryking gedoen, boumateriaal opgelig en gedra, en dit alles in ’n ontspanne en gelukkige stemming.
“En nie een minuut het verlore gegaan terwyl Piet, Paul en Klaas ’n sigaret gerook het nie. Vir al daardie mense, watter werk hulle ook al gedoen het, was die lug suiwer en so skoon as wat verfdampe en stof sou toelaat.”
Die Opotiki-gemeente se liggaam van ouer manne het geskryf: “Die dorpsmense is deur die projek oorweldig. Dit lyk asof almal daaroor praat. ’n Hele paar Bybelstudies is al begin. Een waaroor ons veral opgewonde is, is met ’n baie godsdienstige egpaar wat al baie jare vra dat ons hulle nie moet besoek nie. Hulle het elke dag na die bouterrein gekom en toe na die vergadering. Die man het agterna gesê: ‘Ek kan sien dat julle God se volk is. My hele lewe lank het ek daarna gesmag om met mense soos julle te assosieer.’”
Die vorige jaar het ’n rubriekskrywer vir die Otago Daily Times die volgende oor ’n snelbou-Koninkryksaal in Dunedin gesê: “Dit was ’n buitengewone prestasie, ’n buitengewone voorbeeld van motivering en eiehulp.” Dieselfde koerant het gesê: “Die stadsbewoners het met bewondering toegekyk terwyl ’n groot gebou voor hulle oë verrys het, en baie wonder seker watter ander veranderinge en positiewe projekte dit tot gevolg kan hê as ’n soortgelyke groot groep vrywilligers met so ’n gees van samewerking beskikbaar kon wees. Die Koninkryksaal is ’n trotse simbool van daadwerklike inspanning wat resultate lewer.”
Een man van die honderde wat die bouterrein besoek het, het gesê dat die Getuies “kerke” bou terwyl sy kerkgenootskap kerke verkoop omdat hulle lede al hoe minder word. “As julle nog omtrent twaalf maande gewag het, sou julle een van ons s’n kon koop”, het hy gesê. “Ons moet een verkoop omdat ons dit nie kan afbetaal nie. Maar julle mense het natuurlik nie geestelikes wat betaal moet word nie. . . . En julle geboue het boonop min onderhoud nodig, want dis nie hoë geboue met torings wat dit onmoontlik maak om te onderhou nie.”
Eilande kan God dus inderdaad loof. Mag Jehovah in hierdie pragtige Pasifiese land—en oor die hele wêreld—voortdurend geloof word!
[Venster op bladsy 9]
LANDOORSIG:
1994-diensjaar
VERKONDIGERHOOGTEPUNT: 12 867
VERHOUDING: 1 Getuie vir elke 271
GEDENKMAALOPKOMS: 24 436
GEMIDDELDE PIONIERVERKONDIGERS: 1 386
GEMIDDELDE BYBELSTUDIES: 7 519
AANTAL GEDOOP: 568
AANTAL GEMEENTES: 158
TAKKANTOOR: MANUREWA
[Prent op bladsy 9]
Pioniers gaan omstreeks 1930 in die veld uit
[Prent op bladsy 9]
Takfasiliteite in Manurewa
[Prent op bladsy 9]
Verkondiging van die Koninkryks- boodskap in Devonport, Auckland