Is daar engele in ons midde?
Dit het so vinnig gebeur. Ingedagte en onbewus van haar omgewing het Marilynn oor die treinspoor begin loop. Skielik het sy ’n harde dreuning gehoor. Toe sy opkyk, het sy besef dat sy reg in die pad van ’n aankomende trein staan! Marilynn het yskoud geword, lam van skok. Die trein was so naby dat sy die blou oë en angsbevange gesig van die treindrywer kon sien. Marilynn het wat daarna gebeur het nooit vergeet nie. “Dit was asof ’n reus my van agter af gestoot het”, het sy gesê. “Ek het van die treinspoor af gevlieg en op die steenkoolas net anderkant die spoor geval.” Marilynn, wat effens gekneus was, het opgestaan om haar redder te bedank—maar daar was niemand in sig nie! Haar gevolgtrekking? “My beskermengel het my lewe gered”, sê Marilynn. “Wie anders kon dit gewees het?”
’N SKEPTIESE wêreld is blykbaar skielik behep met engele. In onlangse jare was hemelwesens die onderwerp van televisieprogramme, rolprente en selfs ’n Broadway-opvoering. Boeke oor engele staan byna boaan die lys van godsdienstreffers. Daar is engeleklubs, -seminare en -nuusbriewe. Werkswinkels is gevorm om jou te help—soos een artikel dit stel—om “jou ‘innerlike engel’” vry te laat.
Opportunistiese handelaars slaan munt uit die engelebeweging deur ’n eindelose stroom verbruikersprodukte aan mense te probeer opdring. “Enigiets met engele daarop verkoop soos soetkoek”, sê die mede-eienaar van ’n winkel in die Verenigde State. Benewens die verkoop van baie boeke noem sy “engelebeelde, -borsspelde, -poppe, -T-hemde, -plakkate asook -groetekaartjies”—wat alles, soos een joernalis dit stel, “hemelse winste” maak.
Maar dit is nie net ’n gier nie, hou die engelevoorstanders vol. Om hulle bewering te staaf, gee hulle die een na die ander getuienis—“werklike” ontmoetings met engele. Party sê dat hulle ’n engel in die gedaante van ’n mens gesien het. Ander het ’n lig gesien, ’n stem gehoor, die aanwesigheid van iemand aangevoel of ’n drang gevoel wat, glo hulle, engelagtig was. Baie, soos Marilynn, sê dat ’n engel hulle lewe gered het.
Wat is aan die gang? “Ek dink daar is ’n herlewing wat geestelikheid betref”, sê Joan Wester Anderson, wat twee boeke oor “bonatuurlike” ontmoetings geskryf het. Alma Daniel, wat met die skryf van ’n ander boek gehelp het, neem dit ’n stap verder. Sy sê dat engele “nou die opdrag het om hulle bekend te stel sodat al hoe meer mense bereik kan word. Die rede waarom ons soveel van hulle sien, is omdat hulle dit so wil hê. Hulle doen dit.”
Is dit werklik die geval? Of steek daar iets anders agter die huidige beheptheid met engele? Om uit te vind, moet ons God se Woord ondersoek. Die Bybel bevat die waarheid omtrent engele, soos ons sal sien.
[Foto-erkenning op bladsy 2]
Bladsye 3 and 4: The New Testament: A Pictorial Archive from Nineteenth-Century Sources, by Don Rice/Dover Publications, Inc.