Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 9/15 bl. 5-6
  • Jaloesie het byna my lewe verwoes

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jaloesie het byna my lewe verwoes
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Soortgelyke materiaal
  • Liefde oorwin ongepaste jaloesie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Jaloers ten opsigte van die rein aanbidding van Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Wat jy omtrent jaloesie behoort te weet
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Hoe om jaloesie in die huwelik te vermy
    Hulp vir die gesin
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 9/15 bl. 5-6

Jaloesie het byna my lewe verwoes

JALOESIE het werklik ’n nadelige uitwerking op my begin hê toe ek met my tweede man, Mark, getrou het.a Ons moes saam vir ’n hele paar stiefkinders sorg en sake met ons gewese huweliksmaats hanteer. Die situasie was soms ondraaglik. Wanneer daar ook al ’n gesinskonfrontasie was, het dit nie gelyk asof Mark my ondersteun nie. Dit het vir my begin voel dat hy nog steeds vir sy gewese vrou lief is. Pleks dat ek my jaloesie beheers het, het ek toegelaat dat dit my lewe beheer. Ek het bedreig gevoel wanneer Mark se gewese vrou ook al aanwesig was.

Ek het Mark gedurig dopgehou, en selfs sy oë dopgehou om te sien waarna hy kyk. Ek het dinge uit sy blikke afgelei wat nie eers daar was nie. Soms het ek hom openlik daarvan beskuldig dat hy nog steeds op sy gewese vrou verlief was. By een geleentheid was hy so ontsteld hieroor dat hy by ’n Christelike byeenkoms opgestaan en uitgeloop het. Ek het skuldig voor Jehovah gevoel. Ek het my gesin se lewe versuur, want dit het uiteindelik ook ’n uitwerking op die kinders gehad. Ek het myself gehaat vir wat ek gedoen het, maar ongeag hoe hard ek probeer het, was dit asof ek net nie my jaloesie kon beheers nie.

In plaas van my te help, het Mark my met gelyke munt begin terugbetaal. Wanneer ek hom beskuldig het, het hy vir my geskreeu: “Jaloers, jy’s net jaloers.” Dit het selfs gelyk asof hy my opsetlik probeer jaloers maak het. Miskien het hy gedink dat dit my van my jaloesie sou genees, maar dit het sake net vererger. Hy het na ander vroue begin kyk en opmerkings gemaak oor hoe mooi hulle lyk. Dit het my selfs minderwaardiger en meer verstote laat voel. Ek het die punt bereik waar ’n ander emosie—haat—sy lelike kop uitgesteek het. Op daardie stadium was ek so verward dat ek hom en sy gesin net uit my lewe uit wou hê.

Wanneer die Bybel sê dat ‘jaloesie verrotting vir die gebeente is’, is dit presies wat dit is (Spreuke 14:30, NW). Dit het my gesondheid begin aantas. Ek het maagsere ontwikkel wat baie tyd geneem het om gesond te word. Ek het aangehou om my lewe ongelukkig te maak deur agterdogtig te wees oor enigiets wat Mark gedoen het. Ek het sy sakke deursoek, en as ek telefoonnommers gevind het, het ek gebel om te sien wie die oproep beantwoord. In my diepste wese het ek my só geskaam dat ek van skaamte voor Jehovah gehuil het. Maar ek kon myself net nie keer nie. Ek het myself die grootste skade aangedoen.

My geestelikheid het in so ’n mate daaronder gely dat ek nie meer kon bid nie. Ek het Jehovah liefgehad en ek wou werklik doen wat reg is. Ek het al die tekste in verband met mans en vrouens geken, maar ek kon dit nie toepas nie. Vir die eerste keer in my lewe wou ek nie meer lewe nie, ondanks die feit dat ek wonderlike kinders gehad het.

Die ouer manne in die Christengemeente was baie aanmoedigend en het hulle bes gedoen om my te help. Maar wanneer hulle die onderwerp van my jaloesie aangeroer het, het ek dit weens my verleentheid ontken, en ek wou nie erken dat ek so ’n probleem het nie.

Uiteindelik het my gesondheid tot so ’n mate versleg dat ek hospitaal toe moes gaan vir ’n operasie. Terwyl ek daar was, het ek besef dat die lewe nie so kon voortgaan nie. Ek en Mark het besluit om drie maande uitmekaar te gaan sodat ons ons situasie kon ondersoek sonder om so emosioneel te wees. Gedurende hierdie tyd het iets wonderliks gebeur. In die Ontwaak! het ’n artikel verskyn met die titel “Hulp vir volwasse kinders van alkoholiste”.b

Jy sien, my ma was ’n alkoholis. Hoewel ek nie fisies mishandel is nie, het my ouers nooit toegeneentheid teenoor mekaar of teenoor my getoon nie. Ek kan nie onthou dat my ma my ooit in haar arms vasgehou het of vir my gesê het dat sy my liefhet nie. Ek het dus in werklikheid grootgeword sonder om te weet hoe om lief te hê of, net so belangrik, hoe om liefde te ontvang.

My ma het my dikwels van my pa se liefdesverhoudinge vertel en gesê dat sy hom nie kon vertrou nie. Ek het dus seker maar grootgeword met die idee dat mans oor die algemeen nie vertrou kan word nie. Weens my opvoeding het ek altyd minderwaardig teenoor ander gevoel, veral teenoor ander vroue. Toe ek daardie artikel in die Ontwaak! lees, het dit my gehelp om die betekenis van hierdie dinge te begryp. Vir die eerste keer het ek die grondoorsake van my probleem met jaloesie verstaan.

Ek het die Ontwaak!-artikel vir my man, Mark, gewys, en dit het hom ook gehelp om my beter te verstaan. Ek en hy kon weldra die Bybel se raad volg aan egpare wat dit oorweeg om uitmekaar te gaan. Ons is met mekaar versoen (1 Korintiërs 7:10, 11). Ons huwelik is nou beter as wat dit ooit was. Ons doen die meeste dinge saam, veral wat Christelike bedrywighede betref. Mark betoon meer empatie. Byna elke dag sê hy vir my hoeveel hy my liefhet, en nou glo ek dit werklik.

Wanneer ek weet dat ons met Mark se gewese vrou in aanraking gaan kom, bid ek tot Jehovah om krag en vra hom om my te help om my soos ’n ryp Christen te gedra. En dit werk. Selfs my gevoelens van vyandigheid teenoor haar is besig om te verdwyn. Ek tob nie meer oor negatiewe dinge nie en laat nie my verbeelding op loop gaan nie.

Ek kry nog steeds ongepaste gevoelens van jaloesie. Slegs volmaakte lewe in God se nuwe wêreld sal my daarvan bevry. Ek het intussen geleer om jaloesie te beheers, in plaas daarvan om toe te laat dat dit my beheer. Ja, jaloesie het byna my lewe verwoes, maar deur die hulp van Jehovah en sy organisasie is ek nou ’n baie gelukkiger mens, en my gesondheid is weer normaal. Ek het weer eens ’n sterk verhouding met my God, Jehovah.—Bygedra.

[Voetnote]

a Die naam is verander.

b Sien die Ontwaak! van 22 Mei 1992, bladsye 8-12.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel