Koninkryksverkondigers berig
Groenland se afgeleë nedersettings word bereik
JEHOVAH SE GETUIES gebruik al baie dekades lank Die Wagtoring en Ontwaak! in die verkondiging van die goeie nuus. Hierdie tydskrifte verheerlik die wysheid van Jehovah soos dit in sy Woord, die Bybel, uiteengesit word. Hulle lewer verslag oor wêreldgebeure wat met Bybelprofesieë verband hou, en hulle pas die redelike raad van die Bybel op hedendaagse probleme toe.—Jakobus 3:17.
In 1994 het die Getuies in Groenland ’n spesiale poging aangewend om Die Wagtoring en Ontwaak! vir soveel mense moontlik aan te bied. Gedurende die somer het hulle reëlings getref om van die mees afgeleë nedersettings in Groenland te besoek. ’n Groep Koninkryksverkondigers het per boot meer as 4 000 kilometer met die weskus van Qaanaaq (Thule) op gereis en van die noordelikste gemeenskappe op aarde bereik. Hulle reis het sewe weke geduur. Aan die ooskus het ’n Getuie-egpaar die nedersetting in Ittoqqortoormiit bereik en vir die eerste keer die goeie nuus stelselmatig deur die hele gebied verkondig.
Vroeër daardie jaar, gedurende April, is 7 513 eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! onder die mense van Groenland versprei. Dit beteken dat al 127 Koninkryksverkondigers gemiddeld 59 tydskrifte elk versprei het—1 tydskrif vir elke 7 inwoners. Daardie maand het die Ontwaak! artikels bevat onder die voorbladtitel “Borskanker—elke vrou se vrees”. Een Getuie, wat 140 tydskrifte versprei het, het eksemplare van daardie Ontwaak! by ’n televisieverslaggeefster gelaat. ’n Paar dae later het ’n televisienuusprogram die artikels oor borskanker bespreek. Die verslaggeefster het die tydskrif op televisie vertoon en verskeie bladsye gewys terwyl sy die gehalte van die Groenlandse vertaling geprys het. Sy het ook die aandag gevestig op die praktiese wenke wat die Ontwaak! as voorkomende gesondheidsorg gegee het.
Op dieselfde TV-program is daar ’n onderhoud gevoer met die Getuie wat aanvanklik die tydskrifte by die verslaggeefster gelaat het. Sy het ’n aantal vrae oor Jehovah se Getuies beantwoord en oor die wye verspreiding van die tydskrifte daardie maand gepraat. Sy het ook kommentaar gelewer oor die praktiese wysheid wat daar in die Bybel is en getoon dat sulke redelike raad ons kan help om vandag se probleme die hoof te bied.
Die program is ten slotte afgesluit deur ’n onderhoud met die president van die Groenlandse Kankervereniging te voer. Sy het gesê dat sy nog nooit sulke puik en insiggewende materiaal oor hierdie onderwerp in haar taal gesien het nie. Toe het sy almal wat meer oor borskanker wou weet, genooi om die artikels in die Ontwaak! te lees. Sy het gesê dat daar goeie rede is om Jehovah se Getuies vir hulle inisiatief te bedank.
Soos in Groenland hou Jehovah se Getuies wêreldwyd aan om die goeie nuus “in die hele skepping wat onder die hemel is” te verkondig (Kolossense 1:23; Handelinge 1:8). Met behulp van Bybellektuur, wat Die Wagtoring en Ontwaak! insluit, help hulle alle soorte mense om hedendaagse probleme die hoof te bied en gee hulle mense ook hoop op ’n beter toekoms.
[Kaart op bladsy 8]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Qaanaaq (Thule)
Ittoqqortoormiit
Nuuk (Godthaab)