Vroue regoor die aarde
TOE die eerste mensepaar teen God in opstand gekom het, het Jehovah voorspel dat dit rampspoedige gevolge oor hulle sowel as hulle nageslag sou bring. Jehovah het vir Eva gesê: “Na jou man sal jou begeerte wees, en hý sal oor jou heers” (Genesis 3:16). Die Bybel staan deurgaans diep respek vir vroue voor en miljoene vroue geniet gelukkiger, meer bevredigende lewens omdat hulle en hulle gesinne Bybelbeginsels toepas.
Volgens ’n onlangse verslag oor menseregte is daar wêreldwyd egter baie ander vroue wat verneder, uitgebuit en verkleineer word. Die International Herald Tribune het kommentaar gelewer oor die verslag en gesê: “Die verslag oor 193 lande gee tot in die fynste besonderhede . . . ’n droewige beeld van daaglikse diskriminasie en mishandeling.”
’n Paar voorbeelde: In Sentraal-Afrika moet meisies die meeste van die swaar plaaswerk doen, en drie keer soveel seuns as meisies gaan skool. In een van daardie lande is egbreuk onwettig vir vroue maar nie vir mans nie. Die wet van ’n ander Afrikaland verskoon die man wat sy vrou doodmaak as sy betrap word terwyl sy egbreuk pleeg, maar die wet verskoon nie ’n vrou wat haar man onder soortgelyke omstandighede doodmaak nie.
Die verslag sê dat die polisie in dele van Suid-Amerika onsimpatiek staan teenoor vroue wat geslaan word. En werkende vroue moet gewoonlik met 30 tot 40 persent minder betaling as mans klaarkom.
In dele van Asië is vroue die slagoffers van gedwonge sterilisasies en aborsies. In een land is daar tot 500 000 prostitute en baie van hulle is as prostitute verkoop deur ouers wat geld soek om nuwe huise vir hulleself te koop. In ’n ander land moet die polisie “bruidskatsterftes” ondersoek wat algemeen voorkom—’n vrou word deur haar man of sy familie om die lewe gebring omdat haar bruidskat nie aan hulle verwagtinge voldoen het nie.
Die Bybel verseker ons met betrekking tot Jesus Christus: “Hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë” (Psalm 72:12-14). Ons kan dus tereg optimisties wees; vroue oor die hele wêreld kan na beter toestande uitsien wat dan sal bestaan.