Koninkryksverkondigers berig
God se volk bied hulle gewillig aan
SY NAAM was Josef, en hy was ’n boorling van die eiland Siprus. Hy was een van die eerste-eeuse Christene wat hulle grond en huise verkoop het sodat hulle geldelik tot die uitbreiding van die Christelike godsdiens kon bydra. Vanweë sy goedhartigheid en vrygewigheid het hy as Barnabas begin bekend staan, wat “Seun van Vertroosting” beteken.—Handelinge 4:34-37.
Sulke opregte belangstelling in ander was nog altyd ’n kenmerk van Jehovah se ware aanbidders. Dit is ook vandag met Jehovah se Getuies die geval, soos die volgende ondervinding van die Salomon-eilande af toon.
’n Groep van meer as 60 Getuies uit Australië en Nieu-Seeland het na Honiara, die hoofstad van die Salomon-eilande op Guadalcanal, gereis. Hulle het met die bou van ’n Byeenkomssaal vir groot Christelike samekomste kom help. Dit het hulle slegs sowat twee weke geneem om ’n saal met sitplek vir sowat 1 200 te bou!
Omstreeks dieselfde tyd het die plaaslike owerheid van die dorpie Munda, op die eiland New Georgia, ’n stuk grond reg in die middel van die dorp aan die gemeente van Jehovah se Getuies toegestaan. Hulle wou ’n Koninkryksaal, ’n plek van aanbidding, bou. En hulle het werklik een nodig gehad. Hulle het tot op daardie stadium in die woonkamer van ’n klein blaarhuis vergader, maar hulle het nie die middele gehad om ’n Koninkryksaal te bou nie.a Die gemeente het grotendeels uit bejaardes, siekes en kinders bestaan, en daar was niemand met ondervinding in die boubedryf nie.
Ongeveer 380 kilometer daarvandaan, op die eiland Guadalcanal, het die Getuies in die stad Honiara hulle gewillig aangebied (Psalm 110:3). Hulle het geredeneer: “As ons broers in ander lande gewillig was om vir ons ’n Byeenkomssaal binne twee weke te bou, dan kan ons mos ons broers in Munda help en vir hulle ’n Koninkryksaal binne twee weke bou.”
Dit is wat gebeur het. Eendag het ’n veerboot vol gelukkige en geesdriftige Getuievrywilligers in Munda aangekom. Manne en vroue, oud en jonk, het almal gewerk om hulle vrag af te laai en het gereedgemaak om te begin bou met die hout, sement, dakplate en ander materiaal wat voor hulle in Munda aangekom het.
Kort nadat die werk begin het, het ’n hewige donderstorm die dorp se watertoevoer afgesny. Dit was egter nie ’n onoorkomelike probleem nie. Die Getuies het ’n put gegrawe wat gedurende die hele bouprojek water voorsien het. Wat van kos vir al die werkers? Dit was ook nie ’n probleem nie. Die vrywilligers van Honiara het baie kos saamgebring wat deur die gemeentes in Honiara voorsien is. Hulle het selfs hulle eie kokke saamgebring!
Die bure het die vordering van die projek verbaas dopgehou. Een van hulle het gesê: “Hier gebeur dinge nie binne dae nie. Dit duur jare.” ’n Ander buurman, ’n godsdiensleier, het erken dat daar al 20 jaar aan sy kerk gebou word en dat dit nog nie klaar is nie. In teenstelling hiermee was die nuwe Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in Munda binne slegs tien dae klaar!
[Voetnoot]
a ’n Blaarhuis word van materiaal gemaak wat in die bos of woud afgekap is. Die raamwerk word van stokke en pale gemaak, en die dak en mure word met panele bedek wat van palmblare gemaak word wat oor stokke gevou en met rankplante vasgewerk word.
[Kaarte op bladsy 24]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Stille Suidsee
SALOMON-EILANDE
Munda
GUADALCANAL
Honiara
[Kaart]
AUSTRALIË
NIEU-SEELAND