Waarom is die goddeloses voorspoedig?
“WAAROM bly die goddelose lewe?” Hierdie vraag is lank gelede deur getroue Job geopper, en dit is sedert sy tyd al baie keer herhaal. Hierdie vraag is waarskynlik in die gedagtes van baie mense in die gebied van die eertydse Joego-Slawië (soos die vrou op ons buiteblad) wat treur oor diegene wat in ’n tragiese oorlog ly. Waarom bly goddelose mense dan lewe en is hulle selfs voorspoedig? Soos Job gesê het, het “hul huise” dikwels “vrede, sonder skrik; en die roede van God is op hulle nie”.—Job 21:7, 9.
Beteken dit dat dit nutteloos is om God te dien, jou naaste lief te hê en die kwaad te vermy? Beslis nie! Die Bybel gee ons die regte beskouing wanneer dit sê: “Wees nie toornig op die kwaaddoeners nie, beny hulle nie wat onreg doen nie; want soos gras sal hulle gou verwelk, en soos groen grasspruitjies sal hulle verdroog. Vertrou op die HERE, en doen wat goed is.”—Psalm 37:1-3.
Ja, die skynbare voorspoed van die goddeloses is net tydelik. Trouens, hulle lewe is baie kort, terwyl diegene wat God dien ’n wonderlike hoop vir die toekoms het. God se belofte gaan binnekort vervul word: “God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4). Net die regverdiges sal daardie tyd sien, nie die goddeloses nie. Wat ’n bemoediging tog vir ons om nader aan God te kom en te leer om sy wil te doen, ongeag hoe goddeloos diegene om ons is!
As jy graag meer inligting wil hê of as jy wil hê dat iemand jou moet besoek om ’n gratis tuisbybelstudie met jou te hou, kan jy gerus skryf aan Wagtoring, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740 of na die gepaste adres op bladsy 2.