Moedige geloof van ons Rwandese broers
DIE wêreld was vroeg in 1994 verbyster deur verslae van grootskaalse bloedvergieting uit die Afrikaland Rwanda. ’n Wrede burgeroorlog het uitgebreek—die uiteinde van eeue oue vyandigheid.
Weens die algehele ineenstorting van reg en orde moes die meer as 2 000 Getuies van Jehovah in Rwanda vir hulle lewe vlug. Omtrent 1 300 het na vlugtelingekampe in Zaïre en Tanzanië gevlug, maar sommige kon nie betyds wegkom nie. Tot ons spyt moet ons berig dat ongeveer 400 van ons broers en susters—volwassenes sowel as kinders, almal natuurlik burgerlikes—in die waansinnige geweld omgekom het. Wêreldwyd betreur Christene die verlies van hierdie moedige handhawers van onkreukbaarheid en vind hulle vertroosting in die Bybel se belofte van ’n opstanding.—Johannes 11:25.
Hoe het die oorlewende Rwandese broers en susters gevaar? Ouere manne uit ’n aantal lande is gestuur om sake eerstehands te ondersoek. Een verslag het gesê dat die Rwandese broers die situasie “met groot waardigheid en moed” verduur het. Een van die eerste dinge waarvoor die broers byvoorbeeld gevra het, was Bybellektuur. Die verslag sluit af deur te sê dat ‘dit lyk asof hulle meer besorg is om geestelike voedsel as materiële hulp te ontvang, al het hulle ’n dringende behoefte aan baie dinge’. En hoewel toestande in die kampe haglik is, ‘is die dele waar ons broers is die skoonste’.
Die Wagtoringgenootskap het fondse beskikbaar gestel om voedsel, komberse, klere, skoene en medisyne te koop. Ons broers in Frankryk het mildelik bygedra, en teen die begin van Junie is bykans twee ton voorrade na ons behoeftige Rwandese broers gestuur.
Dit is nie verbasend dat hierdie omstandighede tot ’n goeie getuienis gelei het nie. Waarnemers is ontroer deur die feit dat ons Rwandese broers sulke hulp en ondersteuning van mede-Getuies ontvang het, en dit was moontlik om hierdie hulp met ander te deel. Party het gesê dat die Getuies die enigstes is wat deur lede van hulle godsdiens besoek is!
Die benarde toestand van ons Rwandese broers herinner ons daaraan dat mense in hierdie “laaste dae” “wreed” en “gewelddadig” sal wees (2 Timotheüs 3:1-5; Today’s English Version). Hoewel Jehovah sy volk nie wonderdadige beskerming belowe nie, belowe hy wel om hulle geestelikheid en verhouding met hom te bewaar, en om diegene wat nou omkom tydens Christus se Duisendjarige heerskappy op te wek (Psalm 91:1-10). Mag ons gebede dat Jehovah ons oorlewende Rwandese broers gedurende hierdie tyd van beproewing onderskraag steeds om hulle onthalwe opgaan.—Psalm 46:2.