‘Ek is op ’n wonderbaarlike wyse geskep’
“WAAR kom ek vandaan?” Dit is ’n vraag wat die meeste jong kinders op die een of ander stadium vra. Wanneer die kinders grootword, omvat hulle vraag dikwels meer: “Waar kom lewe vandaan?” Hierdie vraag word al duisende jare lank bespreek, en tans beskou baie wetenskaplikes evolusie as die redelikste oplossing vir die raaisel oor die oorsprong van lewe. Die evolusionis se verduideliking is wesenlik dat lewe toevallig ontstaan het.
Ongeveer 3 000 jaar gelede het koning Dawid geskryf: ‘Ek is op ’n wonderbaarlike wyse geskep’ (Psalm 139:14, NAV). Hoe meer ons omtrent lewe leer, des te meer waarheid sien ons in daardie woorde. Die fisikus Fred Hoyle het tereg geskryf: “Namate biochemici al hoe meer uitvind oor die ontsagwekkende kompleksiteit van lewe, is dit duidelik dat die kanse dat dit per ongeluk ontstaan het so klein is dat dit heeltemal buite rekening gelaat kan word. Lewe kon nie toevallig ontstaan het nie.”
Hoe het lewe dan ontstaan? Die twee inleidingsartikels van hierdie tydskrif bespreek daardie vraag. As jy graag meer inligting wil hê, kan jy gerus skryf aan Wagtoring, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740 of na die gepaste adres op bladsy 2.