Verjaarsdagvierings het al baie slagoffers geëis
DIE viering van verjaarsdae word vandag deur die meeste mense bloot as ’n onskuldige gebruik beskou. Maar die Bybel skilder nie ’n positiewe beeld van hierdie tradisie nie. Om maar een ding te noem, daar is geen aanduiding in die Skrif dat enige van God se getroue knegte verjaarsdae gevier het nie.
Die enigste twee verjaarsdae wat in die Bybel gemeld word, is vir heersers gehou wat vyande van God was. By albei vierings is iemand tereggestel, sodat die gaste hulle kon verlustig in die dood van iemand wat die koning mishaag het. In die eerste geval het Farao, die koning van Egipte, sy hoofbakker tereggestel (Genesis 40:2, 3, 20, 22). Die Egiptiese heerser het dit tydens die fees gedoen omdat hy kwaad geword het vir sy dienskneg. In die tweede geval het Herodus, die onsedelike heerser van Galilea, Johannes die Doper laat onthoof as ’n gunsbewys aan ’n meisie wie se dansery by die partytjie hom behaag het. Watter afstootlike tonele!—Mattheüs 14:6-11.
Maar het die Bybel nie net twee baie uitsonderlike verjaarsdae gemeld nie? Nie eintlik nie. Die destydse Joodse geskiedskrywer Josefus toon dat hierdie gebeurtenisse nie uniek was nie. Hy skryf van ander gevalle waar mense tydens verjaarsdagvierings vir vermaak tereggestel is.
Party het byvoorbeeld plaasgevind ná Jerusalem se vernietiging in 70 G.J., toe 1 000 000 Jode omgekom het en 97 000 oorlewendes as gevangenes weggevoer is. Op pad na Rome het die Romeinse generaal Titus sy Joodse gevangenes na die nabygeleë seehawe Cesarea geneem.
Josefus skryf: “Terwyl Titus in Cesarea was, het hy sy broer Domitianus se verjaarsdag met groot praal gevier en meer as 2 500 gevangenes in spele met wilde diere en vlamme doodgemaak. Daarna is hy na Beritos [Beiroet], ’n Romeinse nedersetting in Fenisië, waar hy sy vader se verjaarsdag gevier het deur talle meer gevangenes by buitensporige vertonings dood te maak.”—The Jewish War, VII, 37, vertaal deur Paul L. Maier in Josephus: The Essential Writings.
Dit is geen wonder dat The Imperial Bible-Dictionary hierdie kommentaar lewer nie: “Die latere Hebreërs het die viering van verjaarsdae as ’n deel van afgodsaanbidding beskou, ’n beskouing wat deeglik bevestig is deur wat hulle gesien het in die algemene gebruike wat met hierdie dae gepaardgegaan het.”
Getroue eerste-eeuse Christene sou nie aan ’n gebruik wou deelgeneem het wat op so ’n negatiewe wyse in die Bybel vermeld word en op so ’n grusame wyse deur die Romeine gevier is nie. Vandag besef opregte Christene dat die Bybelverslae oor verjaarsdae deel uitmaak van die dinge wat tot hulle lering geskryf is (Romeine 15:4). Hulle vier nie verjaarsdae nie, want sulke vierings gee te veel eer aan die individu. Maar van groter belang is dit: Jehovah se knegte neem wyslik in ag dat die Bybel verjaarsdae in ’n ongunstige sin vermeld.
[Prent op bladsy 25]
Die arena in Cesarea