Jou afgestorwe dierbares—Waar is hulle?
ALEC was verslae. Binne ’n week het hy twee van sy vriende verloor. Een van hulle, Nevil, het weens ’n skietwond gesterf. Die ander een, Tony, is in ’n motorongeluk dood. Vrae wat hom nie voorheen gekwel het nie, het die 14-jarige Suid-Afrikaanse seun nou geteister. ‘Waarom moet mense sterf? En wat gebeur ná die dood?’ het hy gewonder.
Op pad na Nevil se begrafnis toe het Alec opreg gehoop dat hy antwoorde op hierdie vrae sou kry. “Maar”, sê hy, “die priester het net uit ’n boek gelees en gesê dat Nevil hemel toe gegaan het. Maar by die graf het hy gesê dat ons op die opstanding wag. Ek was verward. Hoe kan Nevil op ’n opstanding wag as hy in die hemel is?”
Later daardie selfde dag het Alec Tony se begrafnis bygewoon. Die ritualistiese diens is in ’n taal gehou wat hy nie kon verstaan nie. Maar die histeriese gedrag van sommige rouklaers het Alec oortuig dat daar geen vertroosting gebied is nie. “Daardie aand”, verduidelik hy, “was ek vreeslik ontsteld. Ek het hulpeloos en verward gevoel. Niemand kon my vrae bevredigend beantwoord nie. Vir die eerste keer in my lewe het ek werklik gewonder of daar ’n God is.”
Daar is elke jaar miljoene wat, soos Alec, geliefdes aan die dood afgee. Die 1992 Britannica Book of the Year verduidelik: “In 1991 was daar wêreldwyd 50 418 000 sterftes.” En hoeveel miljoene meer het daar nie sedertdien gesterf nie? Stel jou die riviere van trane voor wat deur die bedroefde oorlewendes gestort is! Die verwarring wat deur teenstrydige beskouings oor die dood veroorsaak is, vererger hulle smart.
Soos Alec word baie mense gevolglik ontnugter en twyfel hulle of daar enige grond vir hoop op ’n toekomstige lewe ná die dood is. Volgens die Encyclopedia of Religions “was denkende mense in al die eeue afgeskeie van die meerderheid, . . . en het hulle getwyfel of ’n mens se siel of lewe afsonderlik van die brein en die liggaam kan bestaan”.
Die bogenoemde ensiklopedie erken interessant genoeg dat die godsdiensteorie van ’n onsterflike siel wat afgeskeie van die liggaam bestaan nie in die Bybel gesteun word nie. Die Bybel sê weliswaar op ’n paar plekke dat iemand se “siel” ’n dooie liggaam verlaat en selfs daarna terugkeer, maar in hierdie gevalle word “siel” gebruik in die betekenis van “lewe” wat verloor of teruggekry is (Genesis 35:16-19; 1 Konings 17:17-23). Die woord “siel” word meer dikwels in die Bybel gebruik om sigbare skepsele van vlees en bloed, ja, lewende wesens, te beskryf (Genesis 1:20; 2:7). Die Bybel sê dus herhaaldelik dat siele sterf (Esegiël 18:4, 20; Handelinge 3:23; Openbaring 16:3, NW). God se Woord sê dat wanneer siele dood is hulle ‘glad niks weet nie’.—Prediker 9:5, 10.
Die Bybel bevat daarenteen wel verslae van dooie mense wat opgewek is. In die geval van Lasarus het dit gebeur nadat hy vier dae lank dood was (Johannes 11:39, 43, 44). Maar wat sal met mense gebeur wat honderde of duisende jare gelede gesterf het? Vereis hulle vooruitsig op ’n toekomstige lewe dat God die einste liggaam opwek waarmee hulle gesterf het?
Nee. So ’n idee is strydig met wat uiteindelik met die atome gebeur waaruit ’n dooie liggaam bestaan. Mettertyd word van hierdie selfde atome deur plante opgeneem wat op hulle beurt deur diere geëet word en dan ’n deel van hulle liggaam word.
Beteken dit dat daar geen hoop is vir mense wat lank reeds dood is nie? Nee. Die Skepper van ons ontsaglike heelal het ’n ontsagwekkende, onbeperkte geheue. Sy volmaakte geheue het die vermoë om die persoonlikheid en genetiese kenmerke te bewaar van enige dooie mens wat hy wil onthou. Daarbenewens het Jehovah God die mag om ’n menseliggaam te herskep met die presiese genetiese kode van iemand wat voorheen geleef het. Hy kan ook die geheue en persoonlikheid van die mens wat hy onthou, byvoorbeeld Abraham, in daardie liggaam plaas.
Bykans tweeduisend jaar ná die dood van Abraham het Jesus Christus hierdie versekering gegee: “Dat die dode opgewek word, het Moses ook in die gedeelte oor die doringbos aangedui, waar hy die Here noem die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. Hy is tog nie ’n God van dooies nie, maar van lewendes, want almal leef vir Hom” (Lukas 20:37, 38). Buiten Abraham, Isak en Jakob leef miljoene ander dooie mense in God se geheue en wag hulle op die komende opstanding. Die Bybel bevestig dit: “Daar [sal] ’n opstanding . . . wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges.”—Handelinge 24:15.
’n Paar weke ná Alec sy vriende verloor het, het hy die antwoorde op sy vrae gevind. Een van Jehovah se Getuies het hom tuis besoek en aan hom getoon wat God se Woord oor die dood en die opstanding sê. Dit het Alec vertroos en nuwe betekenis aan sy lewe gegee.
Wil jy ook graag meer aangaande die Bybelse opstandingshoop leer? Sal die meeste opstandings byvoorbeeld in die hemel of op die aarde plaasvind? En wat moet ’n mens doen om God se goedkeuring te verkry en die vervulling van Sy wonderlike belofte te ondervind dat mense met hulle afgestorwe dierbares herenig kan word?