Waarom moet ’n mens in godsdiens belangstel?
IN ELKE land op aarde stel mense in godsdiens belang. Dan is daar ook talle wat baie reguit sê dat hulle nie in godsdiens belangstel nie. Maar het hulle nog altyd so gevoel?
Die menslike samestelling is van so ’n aard dat ’n mens nie werklik met net materiële dinge tevrede is nie. Mense het geestelikheid nodig. ’n Daaglikse bestaan wat net om die verkryging van fisiese benodigdhede draai, met ontspanning af en toe, voorsien nie ten volle in ’n mens se diepste behoeftes nie. Anders as diere wil mense weet: ‘Wat is die doel van die lewe?’ ‘Is hierdie kort lewe, wat soveel pragtige dinge maar ook talle lelike dinge insluit, al wat daar is?’ Het jy nie al soortgelyke vrae gevra nie?
Tog het etlike miljoene mense wat vandag lewe in ’n omgewing grootgeword waarin enige sinvolle belangstelling in godsdiens ontmoedig is. Daardie invloed het dalk van hulle ouers, onderwysers, portuurs of selfs die regering gekom.
Skalabrino, ’n jong man uit Albanië, het verduidelik dat mense onder die Kommunistiese heerskappy geleer is dat daar geen God is nie. Daarbenewens was dit vir hulle gevaarlik om oor godsdiens te praat; so iets kon tot gevangeneming gelei het. Maar in 1991, toe hy as ’n vlugteling in Switserland was, is hy die geleentheid gebied om die Bybel te bestudeer. Hy het dit aanvaar. Waarom?
Wel, hy het in Albanië gehoor dat daar so ’n boek soos die Bybel is, maar hy het nie werklik enigiets daaromtrent geweet nie. ’n Begeerte om die Bybel te verstaan, was dus miskien nie aanvanklik sy vernaamste beweegrede nie. Hoewel daar vir hom gesê is dat hy deur sy studie sou uitvind wat God se voorneme vir die mens en die aarde is, het hy dit ook as ’n geleentheid beskou om die plaaslike taal beter te leer praat. Maar hy het gou besef dat dit wat hy leer ’n diepgewortelde geestelike hunkering in hom bevredig. Dit het sy hart verbly toe hy uitgevind het van God se belofte van ’n nuwe wêreld waar daar vrede sal heers, ’n wêreld waarin mense vir ewig kan lewe en ’n oorvloed van al die lewensbenodigdhede kan geniet. Sy belangstelling is verder aangewakker toe hy uitgevind het dat hy en sy familie deel van hierdie nuwe wêreld kan uitmaak. Hy kon net nie oor hierdie goeie nuus swyg nie en het sy familie in Albanië gebel om hulle daarvan te vertel.
Aleksei, wat in Rusland woon, was ook verbaas oor die invloed wat juiste kennis van die Bybel op ’n mens se lewe kan hê. Omdat hy besonder baie probleme gehad het en nie ’n bevredigende antwoord oor die doel van die lewe kon vind nie, het hy besluit om selfmoord te pleeg. Maar hy het eers Finland toe gegaan om vir ’n vriend te gaan kuier. Op pad het hy in die trein met ’n paar medepassasiers oor sy probleme gesels. Onder hulle was een van Jehovah se Getuies, wat hom aangespoor het om die Bybel te bestudeer omdat dit oplossings vir sulke probleme bied. Hy was skepties. Op pad huis toe het hy ’n soortgelyke ondervinding gehad. Hierdie keer was dit ’n ander Getuie wat vir hom gesê het dat sy dieselfde soort probleme gehad het, maar dat die Bybel haar gehelp het om hulle te oorkom. Sy het hom ook aangemoedig om die Bybel te bestudeer. Toe hy by die huis gekom het, het die telefoon gelui. Dit was ’n ander vriendin wat saam met die Getuies gestudeer het en baie gelukkig was. Die man het begin besef dat die Bybel moontlik werklik in sy behoeftes kon voorsien, maar hy het geweet dat hy dit nie sonder hulp sou kon verstaan nie. Hy het tot ’n gereelde tuisbybelstudie met Jehovah se Getuies ingestem en begin om hulle vergaderinge by te woon. Hy het gou besef waarom diegene wat hulle lewe bou om wat die Bybel leer so gelukkig is, selfs al ondervind hulle ook probleme wat algemeen onder die mensdom voorkom.
Omdat Jesus Christus insig in die menslike samestelling het, het hy gesê: “Die mens kan nie van brood alleen lewe nie” (Mattheüs 4:4, The New English Bible). Hy het ook gesê: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte” (Mattheüs 5:3, NW). Hulle is gelukkig omdat hulle deeglik bewus is van hulle behoefte, die regte stappe doen om daarin te voorsien en God se seën ontvang. Maar dit voorsien nie in ons geestelike behoefte as ons bloot by ’n kerk aansluit of ’n paar kerkdienste bywoon nie. Godsdiens wat hoofsaaklik ritualisties van aard is, het moontlik emosionele trefkrag, maar voorsien dit realistiese oplossings vir die lewensprobleme? Sal ’n godsdiens, al staan dit sekere betroubare grondreëls voor, in jou geestelike behoefte voorsien as dit jou nie help om die werklike doel van die lewe te verstaan nie? Nog belangriker, sal die beoefening van so ’n godsdiens tot ’n goeie verhouding met God lei? Daarsonder sal jy nie ware bevrediging ondervind nie.
In hierdie opsig soek baie mense na iets wat hulle nog nie gevind het nie.
[Prent op bladsy 3]
Sal dit werklik in jou geestelike behoeftes voorsien as jy by ’n kerk aansluit?
[Prent op bladsy 4]
Talle het gevind dat die lewe sinvol raak wanneer hulle die Bybel verstaan