‘Een bladsy kan soos ’n ster deur die duisternis dring’
VANDAG is vertalings van die Heilige Skrif so te sê oral beskikbaar. Maar die stryd om die Bybel was dikwels ’n stryd op lewe en dood.
In die boek Fifteenth Century Bibles het Wendell Prime geskryf: “Dertig jaar ná die uitvinding van die drukkuns het die Inkwisisie moord en verwoesting in Spanje gesaai. Van die 342 000 mense wat in daardie land as gevolg daarvan gestraf is, is 32 000 lewendig verbrand. Dit is weens die Bybel dat hulle as martelare op die brandstapel beland het. Hierdie vernielingswerktuig was net so ’n verskrikking in Italië, in die noorde sowel as die suide. Aartsbiskoppe, wat deur die Inkwisisie gesteun is, was ’n verterende vuur vir Bybels sowel as die lesers daarvan. Nero het sommige Christene laat skyn soos ligte in die wêreld deur hulle aan die brand te steek terwyl hulle in pikbesmeerde sakke toegewerk was, en hy het hulle as fakkels gebruik om die toneel van sy drinkpartye te verlig. Maar die strate van die Europese stede is verlig deur die gloed van die groot vure waarop Bybels verbrand is. Bybels was nie soos lesers wat verarm, ontklee, gemartel, vermink en verstoot kon word nie. Selfs ’n oorblywende bladsy kan die donkerte van hierdie duisternis soos ’n ster deurdring.” (Ons kursiveer.)
Wat die skrywer Wendell Prime beskryf, het werklik gebeur met die Bybelbladsy wat hier verskyn. Dit is die kolofonbladsy, dit wil sê die laaste bladsy van die boek met ’n inskrywing wat die vertaler identifiseer. Die twee parallelle kolomme bo is die slotverse van Apokalips, oftewel die boek Openbaring.
The Cambridge History of the Bible sê oor hierdie boek: “Bonifacio Ferrer se Kataloniese vertaling van die Bybel is in 1478 in Valencia gedruk; alle beskikbare kopieë is voor 1500 deur die Inkwisisie vernietig, maar daar is ’n enkele bladsy oor in die biblioteek van die Spaanse Genootskap van Amerika.” (Ons kursiveer.)
Wendell Prime het ook gesê: “Vir die vreesbevange geestelikes was ’n Bybel net goed wanneer hy verbrand was. Daar sou nog baie meer en helderder heilige vure gewees het as hulle maar net nog Bybels kon vind om te verbrand. Op baie plekke was daar geen Bybelvure nie bloot omdat die owerheid so deeglik was dat daar geen Bybels oor was om te verbrand nie.” Ten spyte van sulke verbete pogings om Bybels uit te wis wat vir die gewone mens bedoel was, is baie kopieë nie vernietig nie. Wendell Prime het bygevoeg: “Bybels het behoue gebly omdat hulle deur bannelinge weggeneem is of omdat hulle in tye van nood en gevaar soos edelstene en edele metale versteek is.”
God se profeet Jesaja het geskryf: “Alle vlees is gras . . . Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid” (Jesaja 40:6, 8). Deur die eeue heen het ’n menigte Bybelliefhebbers en talle moedige vertalers baie gewaag en grootliks gely ter wille van God se Woord. Maar mensepogings alleen sou nooit verseker het dat dit behoue bly nie. Ons dank die Bybel se Outeur, Jehovah, vir die behoud daarvan.
[Foto-erkenning op bladsy 7]
Courtesy of The Hispanic Society of America, New York