Reeds tien jaar gelyktydig!
TOE een dierbare Spaanse suster gevra is hoe sy tien jaar vantevore gevoel het toe die Spaanse uitgawe van Die Wagtoring gelyktydig met die Engelse uitgawe begin verskyn het, het sy gesê: ‘Dit is vir ons ’n seën omdat ons nou, hoe sal ’n mens sê, tred hou met die Engels. Wanneer ek Engels sê, dink ek altyd aan die organisasie. Ons praat van die organisasie as “Mamma”. Ons voel baie na aan die organisasie. Dis heerlik. Dis wonderlik!’
Hierdie getroue suster het die mening van baie nie-Engelse lesers uitgespreek. Die artikels in die Spaanse uitgawe van Die Wagtoring het vroeër jare eers sowat ses maande ná dit in Engels gedruk is, verskyn. Ander tale moes ook so lank wag. Dit is dus te begrype dat daar ’n vurige begeerte bestaan het om dieselfde materiaal gelyktydig in baie tale te publiseer.
Met die nommer van 1 April 1984 het die Spaanse uitgawe dus die eerste geword wat gelyktydig met die Engels uitgegee is. Ander tale het gou gevolg. Aan die begin van 1985 is 23 tale gelyktydig uitgegee. Namate vertalers gevind en opgelei is, het uitgawes in nog meer tale gelyktydig met die Engels begin verskyn.
Hierdie nommer van Die Wagtoring voltooi die tiende jaar van gelyktydige publikasie. Die Wagtoring word nou in 116 tale gepubliseer, waarvan 85 gelyktydig verskyn. Dit beteken dat 99,3 persent van die altesaam 16 100 000 eksemplare van Die Wagtoring met dieselfde omslagontwerp en artikels verskyn. Meer as 95 persent van diegene wat elke week die Wagtoring-studie bywoon, bespreek in dieselfde week dieselfde materiaal.
Die Ontwaak!, die medetydskrif van Die Wagtoring, word gelyktydig in 37 van sy 74 tale gepubliseer. Die Yearbook of Jehovah’s Witnesses wat jaarliks verskyn, word in 18 tale gepubliseer. Hierdie gelyktydige publikasies help om God se volk te verenig “in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening”.—1 Korinthiërs 1:10.