Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 2/1 bl. 31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Soortgelyke materiaal
  • Wie was Kain se vrou?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Broers wat verskillende gesindhede ontwikkel het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Bring aanneemlike offerandes aan Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Wie het jou gemaak?
    Jy kan vir ewig op die aarde lewe!
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 2/1 bl. 31

Vrae van lesers

God het Kain gewaarsku: “Die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou”, wat blykbaar na ’n wilde dier en sy prooi verwys (Genesis 4:7). Waarom is daardie taal gebruik as diere voor die Vloed net plante geëet het?

In die boeke wat deur Moses geskryf is, tref ons ’n aantal verse aan wat feite of geskiedkundige gebeurtenisse meld wat oënskynlik nie heeltemal by hulle geskiedkundige agtergrond pas nie.

Die verslag in Genesis 2:10-14 gee byvoorbeeld geografiese besonderhede oor die tuin van Eden. Moses het geskryf dat een rivier ‘oos van Assirië loop’ (NW). Maar die land Assirië het sy naam gekry van Assur, Sem se seun wat ná die Vloed gebore is (Genesis 10:8-11, 22; Esegiël 27:23; Miga 5:5). Moses het klaarblyklik in sy juiste, geïnspireerde verslag bloot die woord “Assirië” gebruik om na ’n streek te verwys wat aan sy lesers bekend was.

Beskou nog ’n voorbeeld in die vroeë hoofstukke van Genesis. Nadat Adam en Eva gesondig het en uit die tuin verdryf is, het Jehovah gekeer dat hulle terugkom. Hoe? Genesis 3:24 sê: “So het Hy dan die mens weggedrywe en gerubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.” Dit praat van “die swaard wat vlam”. Het God swaarde uitgevind?

Ons moenie tot die gevolgtrekking kom dat ons liefdevolle Skepper die eerste een was wat dít gemaak het wat ons as swaarde ken nie. Adam en Eva het iets gloeiends voor die engele sien flikker. Wat was dit nou eintlik? Toe Moses die boek Genesis geskryf het, was swaarde al goed bekend en is dit tydens oorloë gebruik (Genesis 31:26, NW; 34:26; 48:22; Exodus 5:21; 17:13). Moses se woorde, “die swaard wat vlam”, het sy lesers dus gehelp om hulle min of meer voor te stel wat daar by die ingang van Eden was. Die inligting wat in Moses se dag beskikbaar was, het gehelp om hierdie dinge te verduidelik. En die taal wat Moses gebruik het, moes akkuraat gewees het, want Jehovah het dit in die Bybel ingesluit.—2 Timotheüs 3:16.

Maar wat van Genesis 4:7? Daar het God Kain gewaarsku: “Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie—die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jý moet daaroor heers.” Soos reeds gesê is, lyk dit of die taal ’n honger wilde dier uitbeeld wat lê en loer—gereed om sy prooi te bespring en te verslind.

Die Bybel toon nietemin dat Adam en Eva in vrede met al die diere geleef het. Party diere was waarskynlik baie gerus in die nabyheid van mense en het selfs daarby baat gevind. Ander was wilde diere wat natuurlikerwyse verder van mense af gehou het (Genesis 1:25, 30; 2:19). Die Bybel sê egter nie dat enige van die diere op ander diere of mense jag gemaak het nie. God se oorspronklike voorneme was dat diere sowel as mense van plante moes leef (Genesis 1:29, 30; 7:14-16). Dit het eers ná die Vloed verander, soos Genesis 9:2-5 vir ons toon.

Wat dan van God se waarskuwing aan Kain, soos ons in Genesis 4:7 lees? Die voorstelling van ’n wrede dier wat lê en loer en gereed is om sy prooi te bespring, sou beslis maklik in Moses se dag verstaan word, en ons verstaan dit ook. Moses het moontlik weer eens taal gebruik wat bekend was vir lesers wat ná die Vloed geleef het. En al het Kain nooit so ’n dier gesien nie, sou hy die waarskuwing gesnap het wat die sondige begeerte in hom met dié van ’n honger, roofsugtige dier vergelyk het.

Die vernaamste aspekte wat vir ons van groter belang moet wees, is die volgende: God se goedhartigheid deurdat hy Kain gewaarsku het, die waarde daarvan om raad nederig te aanvaar, hoe maklik jaloesie ’n mens kan verderf en hoe ernstig ons ander Goddelike waarskuwings moet opneem wat God vir ons in die Skrif opgeteken het.—Exodus 18:20; Prediker 12:12; Esegiël 3:17-21; 1 Korinthiërs 10:11; Hebreërs 12:11; Jakobus 1:14, 15; Judas 7, 11.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel