Soos goue appels
APPELS is ’n lus vir die oog en streel die smaak! Die Bybel gebruik hierdie heerlike vrug in ’n gedagteprikkelende vergelyking wanneer dit sê: “Goue appels op versierde silwerborde, so is ’n woord op sy tyd gespreek” (Spreuke 25:11). Wat word met hierdie woorde bedoel?
“Goue appels op versierde silwerborde” laat ’n mens dalk aan snywerk dink, soos ’n gegraveerde silwer skinkbord met goue vrugte daarop. Aangesien vroeëre verse in hierdie hoofstuk melding maak van iemand wat voor ’n koning verskyn, kan hierdie vers na geskenke verwys wat aan ’n heerser gegee word—goue ornamente in die vorm van appels op silwer skinkborde (Spreuke 25:6, 7). Inderdaad indrukwekkend pragtig!
Daar is soortgelyke prag in gepaste, waardige, tydige woorde, hetsy in geskrewe of gesproke vorm. Hulle is in baie opsigte strelend, bemoedigend en nuttig. Die Goddelik geïnspireerde inhoud van die Bybel is veral soos pragtige “goue appels op versierde silwerborde”.
Soos toegelig deur koning Salomo se wyse spreuk in Spreuke 25:11, het hy “gesoek om welgevallige woorde te vind en wat reg geskrywe is—woorde van waarheid” (Prediker 12:10; Spreuke 25:1). Die Christenapostel Paulus het eeue later geskryf: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig” (2 Timotheüs 3:16). Ja, die Bybel bevat nuttige raad, profesieë, woordskildering en waarhede wat so skitterend en pragtig is dat dit die werke van die beste vakmanne grootliks oortref. Daarbenewens verkry enigiemand wat wysheid uit God se Woord, die Bybel, verwerf ’n kosbare besitting en kan hy die hoop op die ewige lewe koester.—Spreuke 4:7-9; Johannes 17:3.