My woede of my gesondheid?
WIE word nie kwaad nie? Dit gebeur met ons almal. Soms is ’n mate van woede dalk geregverdig. Maar is dit nie waar dat ons woede (of die intensiteit daarvan) dikwels eintlik ongegrond is nie?
Die Bybel sê vir ons: “Laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid; wees nie toornig nie: dit is net om kwaad te stig” (Psalm 37:8). Hoe verstandig is sulke raad? Kan dit op die lange duur ’n uitwerking op jou gesondheid hê?
In sy rubriek “Gesondheid” het The New York Times gesê:
“Mense wat dikwels in hewige woedebuie uitbars of briesend raak oor elke kleinigheid wat hulle as ’n onreg beskou, doen dalk meer as om hulleself onaangenaam te maak. Hulle pleeg dalk as ’t ware selfmoord.
“Navorsers het in die laaste tyd ’n magdom inligting ingesamel wat daarop dui dat chroniese woede só skadelik vir die liggaam is dat dit aan die rook van sigarette, vetsug en ’n vetryke dieet gelykgestel word, of dit selfs oortref, as ’n vername risikofaktor wat tot ’n vroeë dood aanleiding gee.
“‘Ons studies toon dat vyandige, agterdogtige woede gelykstaande is met enige ander gesondheidsrisiko waarvan ons weet’, het dr. Redford Williams, ’n navorser oor gedragsgeneeskunde aan die mediese sentrum van die Duke-universiteit, gesê.”
Studies toon dat diegene wat oorreageer wat die gewone stampe en stote van die lewe betref meer spanningshormone afskei. Hulle herhaalde uitbarstings kan ’n wanbalans tussen die beskermende en die nadelige soorte cholesterol veroorsaak en hulle sodoende aan die risiko van kardiovaskulêre siekte blootstel.
Sommige sê dalk: ‘Maar ek is nou maar eenmaal so’ of, ‘Ek het so grootgeword’. Dit beteken nogtans nie dat jy nie kan verander deur in alle opregtheid te probeer om God se raad toe te pas nie. Gaan sy raad oor woede en toorn gerus in jou eie Bybel na soos opgeteken in Spreuke 14:29, 30; 22:24, 25; Efesiërs 4:26; Jakobus 1:19, 20.
As jy daardie Goddelike wysheid toepas, kan dit jou gesondheid verbeter en jou lewe verleng. Die Times het berig: “Baie navorsers het gesê dat mense wat tot woede geneig is die gevaar van ’n vroeë dood kan verminder as hulle hulle daarop toelê om hulle werktuiglike, vyandige reaksies te verander.”