Oestyd!
WAAROM is die geskiedenis van die “Christelike godsdiens” so onchristelik? Talle denkers dink oor hierdie vraag, maar Jesus het dit byna 2 000 jaar gelede deur middel van ’n gelykenis beantwoord. Hy het vertel van “’n man wat goeie saad in sy land gesaai het”. Later “het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai”. Toe die saad begin uitloop, het die werkers die onkruid gesien en wou hulle dit uittrek. Maar die man het gesê: “Laat altwee saam groei tot die oes toe.” In die oestyd sou die koring van die onkruid geskei word.—Mattheüs 13:24-30.
Toe Jesus die gelykenis verduidelik het, het hy gesê dat hy self die een was wat “goeie saad”—ware Christene—gesaai het. Die vyand was Satan, wat “onkruid” onder die saad gesaai het—deur naamchristene in die gemeente te laat insypel. Jesus het die valse en die ware Christene saam laat bestaan—maar net tot die oestyd. Dan sou hulle geskei word.—Mattheüs 24:36-44.
Dit verbaas ons dus nie wanneer ons sien hoe “Christen”-organisasies God deur die eeue heen oneer aangedoen het deur heidense leerstellings te aanvaar, onsedelikheid te vergoelik, veroweringsoorloë te ondersteun en wrede inkwisisies te hou nie. Hieraan word die slegte saad uitgeken wat Satan geplant het. Maar wanneer ons van mense lees wat eerder gesterf het as om Bybelbeginsels prys te gee, besef ons dat die goeie saad nie vernietig is nie.
Jesus het gesê dat die oestyd “die voleinding van die wêreld” is. Aangesien ons in die voleinding van hierdie huidige stelsel van dinge lewe, moet dit nou die oestyd wees! Daar moes dus al ’n skeiding tussen ware en valse Christene plaasgevind het. Vandag moet daar reeds ’n groep mense bestaan, en nie net verspreide enkelinge nie, wat met Jesus se beskrywing van ware Christene ooreenkom—wat aan God se Koninkryk onderworpe is en die goeie nuus daarvan verkondig, wat Bybelse sedelikheid bevorder en heidense leerstellings ten gunste van Bybelwaarheid verwerp, wat God se naam bekend maak en geen deel van die wêreld is nie.—Mattheüs 6:33; 24:14; Johannes 3:20; 8:32; 17:6, 16.
Ons verseker jou dat daar wel sulke mense is! Wil jy God graag op ’n aanneemlike wyse dien? Dan moet jy hierdie mense opsoek en God saam met hulle dien.