Het jy al ooit ’n bosbrand gestig?
NATUURLIK NIE, sê jy. Maar wag! Miskien het jy al. Luister na die woorde van die dissipel Jakobus: “So is die tong ook maar ’n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag. ’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek.”—Jakobus 3:5, NAV.
Die tong is ’n belangrike spraakorgaan, maar hoe is dit tog nie al misbruik nie! Mense gebruik die tong om leuens te vertel en te laster. Hulle gebruik dit om ander kwaai te kritiseer, hulle reputasie te vernietig en hulle te bedrieg. Opruiers gebruik hulle tong om revolusie aan te blaas. Adolf Hitler het syne gebruik om ’n nasie vir oorlog te mobiliseer—inderdaad ’n ‘bosbrand’!
Selfs diegene met goeie beweegredes kan klein ‘bosbrande’ stig. Het jy al ooit iets gesê en dan onmiddellik gewens jy kan jou woorde terugtrek? Indien wel, verstaan jy wat Jakobus bedoel het toe hy gesê het: “Die tong kan geen mens tem nie.”—Jakobus 3:8.
Ons kan nietemin probeer om ons tong ten goede te gebruik. Soos die psalmis kan ons vasbeslote sê: “Ek wil my weë bewaar, sodat ek nie sondig met my tong nie” (Psalm 39:2). Pleks van ander kwaai te kritiseer, kan ons hulle probeer opbou. Pleks van mense te belaster, kan ons goeie dinge van hulle sê. Pleks van mense te belieg en te bedrieg, kan ons die waarheid praat en hulle onderrig. Wanneer die tong deur ’n goeie hart gemotiveer word, kan dit wonderlike woorde van genesing spreek. Jesus het sy tong op ’n uitstekende wyse gebruik om die mensdom oor redding te leer.
Waarlik, “dood en lewe is in die mag van die tong” (Spreuke 18:21). Is jou tong dodelik of lewegewend? Stig dit of blus dit ‘bosbrande’? Die psalmis het tot God gebid: “My tong sal u woord besing, want al u gebooie is geregtigheid” (Psalm 119:172). As ons die psalmis se gesindheid aankweek, sal ons ook ons tong ten goede gebruik.
[Foto-erkenning op bladsy 32]
U.S. Forest Service photo