Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 8/1 bl. 31
  • Die strydwa—’n veeldoelige oorlogsvoertuig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die strydwa—’n veeldoelige oorlogsvoertuig
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 8/1 bl. 31

Die strydwa—’n veeldoelige oorlogsvoertuig

IN ANTIEKE tye het die strydwa vinnige vervoer in ’n geveg voorsien, vir soldate ’n mobiele platform gebied waarvandaan hulle kon skiet en hulle met psigologiese skokkrag toegerus wanneer hulle onder die voetsoldate ingejaag het. Strydwaens met baie verskillende ontwerpe is oral op antieke monumente geïllustreer, en dit getuig van hoe oud hulle is en ook hoe algemeen hulle gebruik is.

Die strydwa het gewoonlik net uit ’n platvorm bestaan wat op ’n enkele as vasgemaak is, met kante wat tot by die bobeen gekom het; die kar se agterkant was oop sodat ’n mens vinnig en maklik kon opklim. Die kar het ’n disselboom en ’n juk gehad waaraan die harnasse van vinnige perde vasgemaak is. Strydwaens is dikwels van hulptoerusting soos koker- en booghouers, skilde en spiese voorsien. ’n Bykomende gevaar vir voetsoldate was die gebruik van ysterlemme wat by die naaf van die wiele van party strydwaens uitgesteek het (Josua 17:16, 18, NW). As daar net een strydwaryer was, is die leisels in ’n geveg om sy middel of heupe gebind sodat sy hande vry was om die wapens te hanteer. Groter en swaarder strydwaens met ’n paar spanne perde het twee, drie of vier manne op gehad, ’n drywer, een of twee vegters en miskien ’n skilddraer.—Exodus 14:7, voetnoot in NW.

Spoed, beweegbaarheid en stabiliteit was vername faktore wat met voortdurende ontwikkeling verbeter is. Deur die as byvoorbeeld agtertoe te skuif, is groter beweegbaarheid en stabiliteit verkry. Deur soliede wiele met gespeektes te vervang, is die strydwaens ligter en vinniger gemaak (1 Konings 7:33). Die ses-speek-wiel het die gewildste geword, hoewel party wiele met vier, agt of meer speke ontwerp is. Deur ligte houtsoorte te gebruik, met net die onderdele van leer, brons of yster, was die strydwaens lig genoeg sodat een of twee manne hulle oor ruwe terrein of stroompies kon dra.

Strydwaens is deur baie van die heidense nasies gebruik wat Israel teëgestaan het. In 1513 v.G.J. het Jehovah Farao se hele leër, onder andere sy 600 spesiale strydwaens “en al die ander strydwaens van Egipte”, by die Rooi See vernietig (Exodus 14:6, 7). Toe die Israeliete die Beloofde Land verower het, het hulle die vyand verslaan en baie van die strydwaens wat hulle gebuit het, verbrand.—Josua 11:4-9.

In Israel is daar nie voor Salomo se tyd ’n noemenswaardige nasionale strydwa-mag ontwikkel nie. Dit was hoofsaaklik weens God se waarskuwing dat die koning nie sy perde moes vermeerder asof die nasie se veiligheid daarvan afgehang het nie. Hierdie waarskuwing het die gebruik van strydwaens beperk, aangesien perde gebruik is om sulke voertuie te trek.

Die profeet Jesaja het vir die rebelse Israeliete gesê: “Wee hulle wat na Egipte aftrek om hulp en hulle verlaat op perde, en wat vertrou op strydwaens, omdat daar baie is, en op ruiters, omdat hulle baie talryk is, maar hulle sien nie op die Heilige van Israel en hulle soek nie die HERE nie.”—Jesaja 31:1.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel