Vermy ’n hoogmoedige gees!
’n Wyse Bybelspreuk sê: “Elkeen wat sy ingang hoog maak, soek ineenstorting” (Spreuke 17:19, NW). Wat is verkeerd met ’n hoë ingang? En wat is die hoofbetekenis van hierdie spreuk?
IN ANTIEKE tye was individue en roofbendes op perde algemeen. Onbeskermde huise op die platteland kon maklik deur diewe beroof word. Om te keer dat hulle besittings gesteel word, het party huiseienaars ’n muur met ’n spesiale poort gebou. Die muur was hoog, maar die ingang laag. Trouens, party was skaars ’n meter hoog—te laag vir ’n perd en sy ruiter om deur te gaan. Diegene wat nie die ingang tot hulle binnehof laag gemaak het nie, het die gevaar geloop dat manne op perde kon inry en hulle besittings plunder.
In die stede was ingange gewoonlik laag en onaantreklik en het geen aanduiding gegee van die rykdom wat dalk binne ’n ommuurde woning was nie. Maar in Persië was ’n hoë ingang een van die tekens van koninklikheid, wat party onderdane probeer naboots het en hulleself sodoende in groot gevaar geplaas het. Enigeen wat ’n hoë ingang vir sy huis gemaak het, het ’n gevaar geloop om beroof te word omdat hy ’n vertoon van welvarendheid gemaak het.
Spreuke 17:19 toon dus dat diegene wat hulle ingang hoog maak rampspoed oor hulleself bring deur die indruk te skep dat hulle welvarender is as wat hulle werklik is. Hierdie spreuk kan ook dui op die mond as ’n poort wat hoog gelig word deur grootpratery en verwaande spraak. Sulke spraak bevorder onenigheid en kan uiteindelik die trotse persoon tot rampspoed lei. Hoe wys is dit dus tog om ’n hoogmoedige gees te vermy!
[Foto-erkenning op bladsy 30]
Picturesque Palestine, Sinai and Egypt, Volume 1, by Colonel Wilson (1881)