Hoeveel sal jy hiervoor gee?
WEET jy van enigiets wat so waardevol is dat jy gewillig alles wat jy het, sal opoffer om dit te kan besit? Jesus het, en hy het met sy volgelinge daaroor gepraat.
Hy het gesê: “Die koninkryk van die hemele [is] soos ’n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.”—Mattheüs 13:45, 46.
Daardie koopman was bereid om van alles afstand te doen om die “pêrel”, God se Koninkryk, te besit. Waarom? Omdat daar niks in hierdie wêreld is waarmee dit vergelyk kan word nie. God se Koninkryk sal die probleme oplos wat die mens nie kan oplos nie, soos oorlog, honger, misdaad en onderdrukking (Psalm 72:4-8, 13, 14). Onder die Koninkryk sal selfs sonde, siekte en die dood nie meer wees nie (Openbaring 21:4, 5). Geen wonder die tweede versoek van die Gebed van die Here (die “Onse Vader”) is: “Laat u koninkryk kom”, nie!—Mattheüs 6:9, 10.
Wat sal jy gee om ’n deel te hê aan die seëninge van die Koninkryk? Trouens, die seëninge is verniet. Maar om dit te geniet, moet jy weet wat die Koninkryk is, glo dat dit ’n werklikheid is en dit eerste in jou lewe stel. Kan jy dit doen? Daar is inligting in die Bybel wat jou sal help. Laat Jehovah se Getuies gerus toe om jou te help om van God se Koninkryk te leer en uit te vind hoe dit jou selfs nou tot voordeel kan strek.