Tabak en die geestelikes
MEER as 115 jaar gelede het dokter John Cowan ’n boek geskryf met die titel The Use of Tobacco vs. Purity, Chastity and Sound Health. In die lig van wat in onlangse jare aangaande die skadelike gevolge van tabak geleer is, was sy opmerkings oor geestelikes se gebruik daarvan versiende en toepaslik vir enigeen wat daarna streef om God vandag te dien. In hoofstuk 4, wat oor die sedelike uitwerking van tabakgebruik handel, het dr. Cowan gesê:
“As die gebruik van tabak fisies verkeerd is—soos wat duidelik getoon is—moet dit noodgedwonge sedelik verkeerd wees; want dit is ’n fisiologiese wet dat ‘wat ook al die liggaam beskadig of irriteer, die senustelsel beskadig en daardeur die brein, en sodoende die verstand’. ’n Mens se verstand—sy gedagtes, sy woorde en sy dade word beïnvloed deur die manier waarop hy sy liggaam gebruik of misbruik. Tabak is, wat sy blote naam en assosiasies betref, vuil, en—selfs as die skade wat dit aanrig nie in ag geneem word nie—hoe kan skoon, rein, regverdige, sedelike gevoelens en dade in die verstand ontstaan of ontwikkel? Stel jou voor—as jy jou so iets kan voorstel—dat Christus, terwyl Hy voorbeeldig op aarde gelewe het—reinheid, kuisheid, liefde en mensliewendheid geleer en gepreek het—gerook, gesnuif en gepruim het. Klink die blote gedagte nie ontheiligend nie? En tog besoedel geestelikes—volgelinge, predikers en vertolkers van Sy wette en leerstellings—hulle liggame en besmet hulle hulle siele met die vuil, giftige onkruid. Kan sulke mense, of hulle volgelinge, Christelike lewens—hoë sedelike lewens—lei? Ek dink nie so nie.
“Probeer, as jy kan, om die idee van ’n vraat, ’n suiplap of ’n tabakgebruiker met ’n rein hart te versoen. Daar is iets onnatuurliks, afstootliks en walgliks in die assosiasie. Net soos die liggaamlike begeertes en die liggaamlike sinne verdorwe raak, raak die innerlike mens, die sedelike karakter, weersinwekkend. Die rein gees sal nie, kan nie, in ’n vuil liggaam woon nie. Daar is ’n natuurlike ooreenkoms tussen materiële en geestelike dinge, sodat die kenmerke van die een die karakter van die ander bepaal. ’n Professor in godsdiens en ’n slaaf van tabak . . . Hy erken dalk in alle eerlikheid en opregtheid dat tabakgebruik ’n skadelike gewoonte is, sedelik verkeerd; nogtans vind hy dalk ’n innerlike drang, ’n wet in sy lede, wat kunsmatig teweeggebring word en wat hom met onversadigbare drange aanspoor om met die gebruik voort te gaan, en hierdie kunsmatige wet kan sterker wees as sy natuurlike rede en gewete saam. Is tabakgebruik nie ’n duidelike skending van een van God se wette wat in ons organisme ingeplant is nie? Is ’n skending van enigeen van God se wette nie ’n oortreding en ’n sonde nie? En as ’n man uit gewoonte een van God se wette skend, sal dit nie maklik en natuurlik wees om oor te gaan na die skending van ander wette nie? En ten slotte, hoe kan enige man as ’n sedelike onderrigter beskou word as hy deur sy eie gedrag by sy medeskepsele ’n lewe aanbeveel wat voordurend die wette van sy wese oortree?”