Is jy soos een van hulle?
‘DIT is beter om ’n dag lank ’n leeu te wees as om ’n honderd jaar lank ’n lam te wees.’ Daardie woorde word toegeskryf aan Benito Mussolini, wat op een tydstip die diktator van Italië was.
Baie mense sal net soos Mussolini beswaar maak as hulle op een lyn gestel word met lammers en skape. Maar eertydse Israel se psalmis-koning Dawid het gesê: “Die HERE is my herder; . . . Na waters waar rus is, lei Hy my heen” (Psalm 23:1, 2). Ja, Jehovah God is die Groot Herder wat met tere sorg na sy volk omsien asof hulle onskuldige skape is.
In Psalm 95:7 word daar van God se volk gepraat as figuurlike skape, en ons lees daar: “Want Hy [“Jehovah”, NW] is onse God, en ons is die volk van sy weide en die skape van sy hand.” Party het dalk verwag dat die psalmis sal praat van “die skape van sy weide” en “die volk van sy hand”. Maar hier word die rolle omgeruil en Jehovah se volk self word dus as sy skape geïdentifiseer. Hulle geniet die voordele van God se weide en word deur sy hand van liefde gelei.
Jehovah se Seun, Jesus Christus, is die Goeie Herder. Hy het dikwels van mense as skape gepraat. Jesus het byvoorbeeld van ’n “klein kuddetjie” en van sy “ander skape” gepraat (Lukas 12:32; Johannes 10:14-16). Jesus het aangaande sy nederige skaapgeaarde dissipels gesê: “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie” (Johannes 10:27, 28). In die hand van ’n welwillende heerser vind onderdane baat by sy krag, guns, leiding en beskerming.—Openbaring 1:16, 20; 2:1.
Niemand kan mense wat waarlik skaapgeaard is uit Jesus se beskermende hand ruk nie. Hy skei vandag mense as “bokke” wat nie sy guns geniet nie of as “skape” wat die ewige lewe onder die heerskappy van God se hemelse Koninkryk sal geniet (Mattheüs 25:31-46). Sal jy een van daardie geseënde skape wees?
[Foto-erkenning op bladsy 32]
Garo Nalbandian