Sy het die prys gewen
“DIT is alles aan julle te danke”, skryf Kijoue, ’n senior hoërskoolleerling, aan die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Japan. Waarvoor is sy so dankbaar? Kijoue het onlangs die eerste prys gewen in ’n nasionale opstelkompetisie wat deur Japan se Verkeersveiligheidsvereniging geborg is. Die waardevolle toekenning sluit ’n reis na Swede in.
Kijoue het geskryf om haar waardering uit te spreek vir die talle goeie publikasies wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee word, want sy meen hulle het haar baie gehelp om sukses te behaal. Buiten dié kompetisie het sy haar skool al in baie redenaars- en opstelkompetisies verteenwoordig. “In die meeste van hierdie kompetisies”, sê sy, “word ’n onderwerp gegee en die leerlinge doen in ’n biblioteek navorsing vir hulle opstelle. Maar ek hoef nie al daardie moeite te doen nie. Ek vind wonderlike materiaal op die boekrak by die huis!” Sy gaan voort: “Wat die onderwerp ook al is, hetsy die probleme van veroudering, die omgewing, internasionale betrekkinge of selfverbetering, daar is gewoonlik ’n volledige bespreking in Die Wagtoring of die Ontwaak!”
Tog is dit nie net die publikasies wat Kijoue gehelp het nie. Sy sê dat die opleiding wat sy deur die onderrigtingsprogramme van Jehovah se Getuies ontvang het haar gehelp het om beter te lees en skryf, en dit het haar weer in staat gestel om in die kompetisies uit te blink. “Vroeër wou ek graag universiteit toe gaan”, erken sy. “Maar waar kan ek opleiding soos dié kry?” Nou wil sy ander voltyds help om baat te vind by die opleiding wat sy ontvang het. Hoewel Kijoue ingenome is met die prys wat sy vir haar opstel ontvang het, is dit haar hartsbegeerte om die prys van die lewe te wen.—Vergelyk Filippense 3:14.