’n Aanslag op die gesin!
“DIE gesin is die oudste instelling van die mens. In baie opsigte is dit die belangrikste instelling. Dit is die samelewing se mees basiese eenheid. Hele beskawings het, na gelang van hoe sterk of hoe swak die gesinslewe was, bly bestaan of ten gronde gegaan.”
Dit is wat The World Book Encyclopedia reeds in 1973 gesê het. Maar gesien uit vandag se perspektief neem hierdie woorde ’n onheilspellende, amper doemprofetiese, toon aan. Die laaste paar jaar het iets aanskou wat neerkom op ’n frontaanval op die gesinslewe. Die gewilde voorligter John Bradshaw skryf: “Daar is vandag ’n krisis in die gesin. . . . Die hoë egskeidingsyfer, tieneroproer, grootskaalse dwelmmisbruik, ’n epidemie van bloedskande, eetversteurings en liggaamlike mishandeling is aanduidings dat iets radikaal verkeerd is.”
Trouens, “aanduidings dat iets radikaal verkeerd is” met die gesin kan oor die hele wêreld gevind word. The Unesco Courier het aangaande die situasie in Europa gesê: “Sedert 1965 was daar oor die hele vasteland ’n groot toename in egskeidings. . . . Enkelouergesinne het toegeneem.” Ontwikkelende lande sien eweneens hoe gesinsprobleme toeneem. Die skrywer Hélène Tremblay merk op: “Vir miljoene mense wat in samelewings woon wat eeue lank ’n gewone, voorspelbare, onveranderde lewenswyse geken het, is vandag ’n tyd van verwardheid.”
Die omstandighede wat vandag in baie huise bestaan, is veral verontrustend. In die Verenigde State alleen word miljoene der miljoene kinders deur ’n alkoholisouer grootgemaak. Daar is ook ’n skrikwekkende toename in gesinsgeweld. In hulle boek Intimate Violence het navorsers Richard Gelles en Murray Straus gesê: “Dit is waarskynliker dat jy in jou eie huis deur ’n geliefde liggaamlik aangerand, geslaan en doodgemaak sal word as op enige ander plek deur enigiemand anders in ons samelewing.”
As die voortbestaan van die beskawing werklik afhang van hoe sterk die gesin is, is daar rede om vir die toekoms van die beskawing te vrees. Maar dalk is die lot van die beskawing die laaste ding waaroor jy jou bekommer. Jy is waarskynlik meer bekommerd oor wat so ’n onrusbarende situasie vir jou gesin kan beteken. Wat sal die uitkoms wees? Die antwoord uit ’n gesaghebbende bron sal jou heel waarskynlik verbaas.