Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 8/15 bl. 8-9
  • Van historiese hospitaal tot unieke Koninkryksaal

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Van historiese hospitaal tot unieke Koninkryksaal
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 8/15 bl. 8-9

Van historiese hospitaal tot unieke Koninkryksaal

IN 1770 het die beroemde Engelse ontdekkingsreisiger luitenant James Cook met die 369-ton-bark, die Endeavour, langs die onbekende ooskus van Australië geseil. Op die aand van 11 Junie het die vaartuig ’n koraalrif getref in ’n afgeleë gebied aan die noorde van die vasteland. Die eikehoutromp was ernstig beskadig. Herstelwerk was dringend nodig as die bemanning wou oorleef. ’n Nabygeleë riviermonding was die ideale plek vir die herstelwerk wat ses weke geduur het. Honderd-en-drie jaar later is goud in hierdie omgewing ontdek. Die goudstormloop het begin! Tienduisende het hulle fortuin kom soek. Cooktown is gebore.

In 1879 het die regering toestemming verleen om ’n permanente hospitaal op te rig vir die siekes en dié wat in mynongelukke beseer word. In dieselfde jaar, aan die anderkant van die wêreld, het die eerste uitgawe van Zion’s Watch Tower op 1 Julie die lig gesien. Sedertdien het hierdie tydskrif ’n program voorsien vir die geestelike welstand van miljoene godvresende mense. Min het hulle toe geweet dat die Cooktown-hospitaalgebou eendag noue bande met hierdie tydskrif sou hê.

Na meer as ’n eeu moes die Cooktown-hospitaal vervang word. Regeringsfondse is vir ’n nuwe gebou beskikbaar gestel en tenders is dus gevra vir die verwydering van die ou hospitaalgebou. Die National Trust of Queensland het groot belangstelling in hierdie historiese gebou getoon. Maar die koste verbonde aan die verplasing en restourering van die gebou was te hoog. Niemand het getender nie.

Ongeveer dieselfde tyd het die gemeentetjie van Jehovah se Getuies in Cooktown ’n permanente plek gesoek waar hulle Christelike vergaderinge kon hou. Hulle het geen grond besit nie, en hulle het net R1 700 gehad. Hoe kon hulle ’n Koninkryksaal bou? Verteenwoordigers van die plaaslike gemeente het aangebied om die hospitaalgebou gratis te verplaas. Hoe sou Jehovah sake stuur? Opwindende nuus! Hulle tender is aanvaar!

Nou vir die volgende stap—grond vir die gebou. Ja, is daar vir hulle gesê, dit lyk asof staatsgrond gratis beskikbaar gestel kan word op voorwaarde dat die gebou behoue bly en gerestoureer word. Maar teen hierdie tyd het teenkanting teen die voorgenome projek in ’n onvriendelike deel van die gemeenskap toegeneem. ’n Versoekskrif is voorberei met die doel om ’n einde aan die Getuies se planne te maak. ’n Gerug het die ronde gedoen dat Jehovah se Getuies Cooktown sou oorneem, al die hotelle en dobbelpersele sou sluit en die verkoop van tabak sou verbied. Natuurlik het dit nooit gebeur nie, maar om die grond heringedeel te kry en die nodige goedkeuring te kry om te bou, het al hoe moeiliker geword. Die spertyd vir die verwydering van die gebou het vinnig nader gekom. Die Staatsregering van Queensland is gevra om tussenbeide te tree. (Vergelyk Romeine 13:2.) Toestemming vir die gebruik van staatsgrond is sonder versuim verleen, en ’n boupermit is uitgereik. Met die grond en die gebou in hulle besit, was die vraag: wat nou?

Vanuit verskeie dele van Queensland het ’n span met honderde Getuies opgedaag, ervare vakmanne en helpers wat hulle tyd aanbied en die vaardigheid ontwikkel het om Koninkryksale baie vinnig te bou. Hierdie projek het spesiale uitdagings gebied: hulle moes dele van die tweeverdieping-hospitaal na die nuwe perseel verskuif en die gebou dan weer aanmekaar sit. Die moesonseisoen met dreigende stortreëns was om die draai. Sou die werk betyds voltooi wees? Van die dorpenaars het hulle bedenkinge gehad. Maar wat vir party na ’n onmoontlikheid gelyk het, is gou uitgevoer. In April 1986 is die gebou verplaas en daarna tot sy oorspronklike glorie gerestoureer.

Al hierdie bedrywighede het nie ongemerk gegaan nie, soos kommentare in die Anglican Newsletter in Cooktown duidelik toon. Dit het ten dele gesê: “Ek sal sonder twyfel gekritiseer word, maar . . . kyk rond in die Kerk en sien hoe leeg is dit, en kyk na die ander klomp [Jehovah se Getuies] en sien hoe vol hulle word . . . , vol Anglikane en Rooms-Katolieke. . . . Het julle geweet dat ’n sekere organisasie . . . die ou Hospitaal gekoop het om dit te herbou in wat hulle seker ’n kerkgebou kan noem, omdat die Skool te klein vir hulle almal is? . . . Hoe swak was ons om toe te laat dat dit gebeur.”

Duisende toeriste besoek Cooktown elke jaar. Hulle kom om die pragtige reënwoudomgewing en die Groot Barriérerif te geniet en om meer omtrent die geskiedenis van die gebied te leer. Die Kaptein Cook-museum is ’n gewilde aantreklikheid vir die meeste besoekers. Sedert 1989 is die Cooktown-hospitaal in sy nuwe rol as ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies ook ’n vername besienswaardigheid. Soewenierwinkels verkoop afdroogdoeke en T-hemde met ’n prent van die Cooktown-hospitaal-Koninkryksaal daarop gedruk. Gedurende die toeriste-seisoen besoek tussen seshonderd en duisend mense elke week die gebou om self sy unieke argitektuur uit 1879 te sien.

Die tydskrif wat nou as The Watchtower bekend staan, is vrylik aan besoekers beskikbaar. Sedert 1879 het hierdie tydskrif se sirkulasie tot meer as 15 miljoen halfmaandelikse eksemplare in 111 tale gegroei. Dit rig mense na die Bybel se belofte dat sommige lede van die geslag van 1914 sal lewe om te sien hoe goeie fisiese en geestelike gesondheid aan die mensdom teruggegee word (Jesaja 33:24). Die ganse aarde sal deur miljoene vrywilligers in ’n paradys omskep word (Psalm 37:29). Besoek gerus ’n Koninkryksaal in jou omgewing. Jy sal iets vind wat van veel groter waarde is as al die goud wat ooit in die Cooktown-streek gemyn is.—Spreuke 16:16.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel