Die tyd om God te soek
DIE prent op hierdie bladsy is van die Atheense Akropolis wat eens op ’n tyd die sentrum van aanbidding van baie gode en godinne was. Onderkant die Akropolis is die Areopagus wat in antieke tye blykbaar die ligging van ’n geregshof was. Dit was hier, byna 2 000 jaar gelede, waar die apostel Paulus gestaan en ’n werklik merkwaardige toespraak gelewer het. Hier volg ’n deel van wat hy gesê het:
“[God] het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons.”—Handelinge 17:26-28.
Hoe anders sou die geskiedenis tog gewees het as die mensdom in die algemeen ag geslaan het op Paulus se woorde! Hoeveel oorloë, hoeveel lyding, sou verhoed gewees het as mense erken wat hulle gemeen het as die nageslag van een man wat deur die Soewereine Heer, Jehovah, geskep is.
Die mensdom word vandag geskeur deur nasionalisme, klasverskille, rassehaat en maatskaplike onregverdighede. Tog geld Paulus se woorde steeds. Ons is almal afstammelinge van daardie een man wat deur God geskep is. In daardie sin is ons almal broers en susters. En dit is nog nie te laat om God te soek terwyl hy nog te vinde is nie.
Paulus se woorde is van selfs groter erns as ons die laaste woorde van sy toespraak ondersoek. Hy het gesê: “[God het] ’n dag bepaal . . . waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ’n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.”
Die opstanding van Jesus is ’n geskiedkundige feit, en soos Paulus toon, is dit ’n waarborg dat daar ’n oordeelsdag vir die mensdom sal wees. Wanneer? Wel, ons weet dat dit byna 2 000 jaar nader is as toe Paulus in die Areopagus gestaan het en hierdie woorde geuiter het. Trouens, die vervulling van Bybelprofesieë toon dat dit baie naby is. Dit stem ’n mens beslis tot nugtere denke! Hoe dringend is dit tog dat ons God in alle opregtheid soek, aangesien hy ‘nou aan al die mense oral verkondig dat hulle hul moet bekeer’, soos Paulus vir die Atheners gesê het!—Handelinge 17:30, 31.