Hulle kan by die bye leer
“Ingenieurs en produkontwerpers het in onlangse jare tot ’n al groter besef gekom van iets wat bye klaarblyklik nog altyd geweet het: al vorm jy ’n baie dun materiaal in die patroon van ’n sessydige heuningkoek, maak jy dit sterker as wat dit in enige ander vorm sal wees.”—The New York Times, 6 Oktober 1991.
DIT is nie verbasend dat mense kan baat vind by ’n sorgvuldige studie van insekte nie. ’n Eertydse man van geloof, Job, het eenmaal gesê: “Vra tog vir die diere, dat hulle jou leer; en die voëls van die hemel, dat hulle jou te kenne gee; . . . Wie weet nie deur al hierdie dinge dat die hand van die HERE dit gemaak het nie?” (Job 12:7-9). Ja, die wysheid van die Skepper kan duidelik gesien word in sulke eenvoudige dinge soos die heksagonale vorm van die selle in ’n heuningkoek.
Hoewel die wasmure van hierdie selle maar net ’n derde millimeter dik is, is hulle uiters sterk. Trouens, hulle kan 30 keer hulle gewig dra.
Hierdie sterkte kan op praktiese maniere gebruik word, soos in kussingtoerusting teen skokke. Dit beskerm selfs militêre toerusting wat met valskerms neergelaat word. The New York Times merk in verband hiermee op: “Voorwerpe so swaar soos jeeps word op platforms vasgemaak met heuningkoekvormige blokke aan die onderkant om die skok van die landing te absorbeer.”
Mensgemaakte produkte met hierdie ontwerp kan van baie materiale gemaak word. Die algemeenste is blykbaar papier. Nylonveselpapier en harpuis word gebruik om heuningkoekstrukture te vorm wat in die romp van party groot vliegtuie gebruik word. Die sterkte gaan met ’n relatief ligte gewig gepaard. Waarom? Die meeste spasie tussen die panele is lug, en die gewig is dus lig. Die lug het ook goeie isolasie-eienskappe.
Die eenvoudige by “weet” nie werklik van al hierdie dinge nie, omdat hy nie ’n graad in ingenieurswese het nie. Tog doen hy daagliks sy werk met die instinktiewe wysheid wat die Skepper Jehovah aan hom gegee het.