Koninkryksverkondigers berig
Die dekking van afgesonderde gebied in Paraguay werp vrugte af
DIE takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Paraguay is deeglik bewus van hoe belangrik dit is dat die goeie nuus van die Koninkryk in sy hele gebied verkondig moet word (Handelinge 1:8). Dit is nou die tyd vir almal om van die Koninkryk te leer en om Jehovah te dien voordat hy tydens die komende “groot verdrukking” ’n einde aan hierdie goddelose stelsel maak (Mattheüs 24:21, 22). Die volgende ondervindinge toon wat gedoen word om mense in ontoegekende gebiede te help. Die takkantoor berig:
Reëlings is getref om die hele ontoegekende gebied met die hulp van tydelike spesiale pioniers te dek. Gedurende November tot Januarie van die 1990-diensjaar het 39 broers en susters altesaam honderd stede en dorpies gedek waar daar nog nie Koninkryksverkondigers is nie. Hulle kon 6 119 boeke, 4 262 boekies en 5 144 tydskrifte versprei. Nuwe groepe verkondigers word as gevolg van hierdie bedrywigheid gevorm.
◻ ’n Vrou het die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe by ’n pioniersuster wat in die ontoegekende gebied gewerk het, geneem. Die pionier het aangebied om ’n Bybelstudie met haar te hou, en sy het dit gretig aanvaar. Toe die pionier teruggaan, het nie net die vrou nie, maar ook haar man en hulle tien kinders op haar gewag. Met die volgende besoek was die gesin sowel as hulle vriende en bure gereed vir die Bybelstudie! Die vrou het hulle genooi en vir hulle gesê dat die studie baie goed is en dat die hoop en seëninge wat Jehovah gee wonderlik is. Dit was iets wat niemand haar nog ooit vertel het nie, en daarom het sy gemeen dat haar bure en vriende ook hierdie goeie nuus moes hoor.
Elke keer wanneer die pionier die studie gehou het, was daar so baie mense dat dit soos ’n klein gemeentetjie gelyk het. Hierdie belangstellendes het baie vrae gevra en aan die studie deelgeneem. Toe die pionier verduidelik dat sy saam met haar metgeselle na ’n nuwe gebied moet gaan wanneer die gebied heeltemal gedek is, het die vrou bekommerd gevra wat van hulle gaan word. Reëlings is met broers in die naaste gemeente getref om die studie voort te sit. Spesiale pioniers het nou die toewysing ontvang om hierdie skaapgeaarde belangstellendes te help.
◻ Terwyl ’n pioniersuster in ’n ander ontoegekende gebied van huis tot huis gegaan het, het sy ’n man ontmoet wat sowat tien jaar tevore die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe geneem het. Hy het sedertdien alle kontak met Jehovah se Getuies verloor. Maar hy het geweet dat Jehovah van die Leërskare die enigste ware God is en dat Hy alleen aanbid moet word. Hy het uit sy eie met almal wat hy geken het oor Jehovah gepraat. Trouens, hy het elke week drie kilometer ver geloop om ’n belangstellende egpaar te besoek om met hulle oor God te praat, want, het hy gesê: ‘As ek ophou om hulle te besoek, sal hulle van Jehovah vergeet.’ Benewens hierdie egpaar was daar ongeveer tien ander wat ’n Bybelstudie wou hê—almal omdat hierdie belangstellende met hulle gepraat het.
Dit is merkwaardig dat hierdie einste man net ’n paar dae voor die pionier hom besoek het, geweier het dat ’n plaaslike priester en sy gevolg met ’n beeld van die maagd in sy huis inkom, en hy het verduidelik dat hy nie aan beelde glo nie. Die priester was woedend. Daardie nag het die man tot Jehovah om hulp gebid. Stel jou dus voor hoe opgewonde en bly hy was toe die pionier hom besoek het! Reëlings is dadelik getref vir ’n stelselmatige Bybelstudie en die man maak steeds vooruitgang onder leiding van die teokratiese organisasie.
Jehovah seën waarlik die insamelingswerk in Paraguay terwyl die broers daarna streef om ’n deeglike getuienis in hierdie ontoegekende gebiede te gee.—Mattheüs 24:14.