“Jehovah se Getuies?”
DIE vraag hierbo het as ’n titel in die Finse Bulletin of the University of Helsinki verskyn. Onder die titel was ’n brief wat deur professor Jorma Palo geskryf is, en dit het deels gesê: “Ek het die seël van ons universiteit wat op die voorblad van die Bulletin gedruk is van naderby bekyk. In die middel van die boonste helfte het ek ’n Hebreeuse tekswoord gevind, en ek het ’n Joodse gas van my gevra wat dit beteken. Volgens hierdie geleerde, wat Hebreeus ken, is hierdie woord ‘Jehovah’ in Fins.”
Die teenwoordigheid van God se persoonlike naam op die seël van hierdie Finse universiteit het party mense verbaas. Maar die universiteit is in der waarheid 350 jaar oud, en toe dit gestig is, was die naam Jehovah alombekend en is dit dwarsdeur Europa gebruik. Die naam verskyn op talle openbare geboue, muntstukke en seëls wat uit daardie tydperk dateer.—Sien die brosjure Die goddelike naam wat vir ewig sal bestaan.
In ons eeu gebruik die Christendom nie meer God se naam nie, en daardie vroeë belangstelling daarin is ook grotendeels vergete. Slegs een groep gebruik die goddelike naam in aanbidding en verkondig dit wyd en syd, in ooreenstemming met die eerste versoek in die Onse Vader-gebed: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word” (Mattheüs 6:9). Dit is waarom mense onmiddellik aan Jehovah se Getuies gedink het toe die naam op die universiteitseël herken is.
[Foto-erkenning op bladsy 32]
Yliopisto