Kan die wetenskap wonderwerke weerlê?
Het die wonderwerke van die Bybel werklik gebeur? Daar is talle mense, waaronder baie wetenskaplikes en godsdiensleiers, wat nee sê. Hulle meen dat geloof in wonderwerke tot ’n bygelowiger tydperk behoort en dat die moderne wetenskap die moontlikheid dat hulle kon gebeur het, weerlê het. Dus is die volgende brief wat in The Times van Londen gepubliseer is en deur ’n paar wetenskaplikes onderteken is, noemenswaardig. Dit sê:
“Dit is nie logies geldig om die wetenskap te gebruik om wonderwerke in twyfel te trek nie. Om te glo dat wonderwerke nie kan gebeur nie, is net so ’n daad van geloof soos om te glo dat hulle wel kan gebeur. . . . Wonderwerke is gebeurtenisse sonder presedente. Wat die huidige neigings in die filosofie of die openbarings van meningspeilings ook al te kenne gee, dit is belangrik om te bevestig dat die wetenskap (wat op die waarneming van presedente gegrond is) niks oor die onderwerp kan sê nie. Sy ‘wette’ is net veralgemenings van ons ondervinding. Geloof berus op ’n ander grondslag.” (Ons kursiveer.) Trouens, die moderne wetenskap kan die verslae van die wonderwerke van die Bybel geensins weerlê nie.