Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 4/1 bl. 3-4
  • Dit was later as wat hulle gedink het!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dit was later as wat hulle gedink het!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Soortgelyke materiaal
  • Jeremia—’n ongewilde profeet van God se oordele
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Bybelboek nommer 24—Jeremia
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Glanspunte uit die boek Jeremia
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • “Ek kan nie stilbly nie”
    God se woord vir ons deur Jeremia
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 4/1 bl. 3-4

Dit was later as wat hulle gedink het!

DIE jaar, 609 v.G.J. Die plek, Jerusalem. Die spreker, Jeremia die profeet. Hy het vir sy geliefde heilige stad, Jerusalem, vernietiging voorspel, ’n vernietiging wat sou kom omdat die Jode hulle rug op Jehovah gekeer en hulle oorgegee het aan die aanbidding van valse gode. Hulle het aan wellustige seksaanbidding op die hoogtes deelgeneem, drankoffers vir heidense gode uitgegiet, die son en maan en sterre aanbid, wierook vir Baäl gebrand en hulle kinders aan Molog geoffer.—1 Konings 14:23, 24; Jeremia 6:15; 7:31; 8:2; 32:29, 34, 35; Esegiël 8:7-17.

In hulle oë was Jeremia ’n onheilsprofeet, ’n dweper, wat met alles en almal ontevrede is. Jeremia het hulle 38 jaar lank gewaarsku; 38 jaar lank het die inwoners van Jerusalem hom bespot. Tot nou toe het die volk Jehovah veronagsaam en gesê dat hy nie ’n mag is waarmee hulle rekening moes hou nie. Hulle het gesê: “Die HERE doen geen goed en Hy doen geen kwaad nie” en: “Die HERE het die land verlaat, en die HERE sien nie.”—Sefanja 1:12; Esegiël 9:9.

Die profete Jeremia en Esegiël het verkondig dat Jerusalem vernietig sou word, maar niks het gebeur nie. Die Israeliete het dus die moontlikheid uitgesluit dat sulke visioene in hulle dag vervul sou word, en gesê: “Die dae gaan voort, en van al die gesigte kom niks nie.” Maar Jehovah se antwoord daarop was: “Die dae is naby . . . Want Ek, die HERE, Ek sal spreek—wat Ek as woord spreek, dit sal gebeur; dit sal nie meer uitgestel word nie. Want in julle dae, o wederstrewige huis, sal Ek ’n woord spreek en dit uitvoer.”—Esegiël 12:22-25.

In 609 v.G.J. het die tyd aangebreek vir Jehovah om sy woord te vervul. Nadat Jeremia al amper vier dekades lank die waarskuwing laat hoor het, is die stad Jerusalem deur Babiloniese leërs omsingel. Agttien maande later het hulle deur die mure gebreek, die tempel afgebrand en die grootste gedeelte van die volk in ballingskap na Babilon weggevoer. Soos voorspel is, is die stad deur die swaard en hongersnood en pes vernietig.—2 Konings 25:7-17; 2 Kronieke 36:17-20; Jeremia 32:36; 52:12-20.

Jeremia was reg. Die volk was verkeerd. Dit was later as wat hulle gedink het! Die visioen was nie vir jare vér in die toekoms nie. Dit was vir hulle dag.

Dit is nie blote geskiedenis nie. Wat met Jerusalem gebeur het, is profeties. Dit het iets in die toekoms afgebeeld. Die hedendaagse Christendom dra die naam van Christus en beweer dat hulle in ’n verbondsverhouding met God is; tog volg hulle in die voetstappe van die inwoners van eertydse Jerusalem. Oor die algemeen leer die Christendom se kerke heidense leerstellings, is hulle met geslagsonsedelikheid besmet, staan hulle politieke oogmerke voor, ondersteun hulle oorloë in die wêreld, aanvaar hulle evolusie en skuif God as Skepper opsy, verskoon hulle die feit dat miljoene ongeborenes op die altaar van gerief geoffer word, verkies hulle oor die algemeen menslike filosofieë, en beweer hulle dat die Bybel ’n mite en ’n legende is.

Net soos die inwoners van Jerusalem met Jeremia gespot het, spot die Christendom vandag met Jehovah se Getuies. En hulle steur hulle nie aan die Getuies se waarskuwing van ’n komende vernietiging met Armageddon nie. ‘God stel nie in die aarde belang nie’, sê die Christendom. ‘Laat hom baas wees in die hemel; ons sal op die aarde baas wees. En as Armageddon kom, sal dit nie in ons dag wees nie. Ons het daardie storie al vantevore gehoor. Ons gaan ons nie daardeur laat flous nie!’

Gaan dit ’n herhaling van die geskiedenis wees? Gaan dit weer ’n tyd wees wanneer miljoene sal ontdek dat dit later was as wat hulle gedink het?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel