Die geskil oor Jesus se dood
OP DIE dag van die Pasga 33 G.J. het ’n drievoudige teregstelling plaasgevind. Drie veroordeelde mans is na ’n plek buite die mure van Jerusalem geneem en op een van die pynlikste en vernederendste wyses doodgemaak: hulle is aan regop houtpale gehang. Sulke teregstellings was iets algemeens in Romeinse tye, en ’n mens sou dus verwag dat die Pasga-teregstellings teen hierdie tyd lankal vergete moet wees. Maar een van die slagoffers was Jesus Christus. Sy dood het betekenisvolle godsdienstige veranderings en geskille ontketen.
Byna tweeduisend jaar het sedert daardie gebeurtenis verloop, en daarom beskou jy dit miskien bloot as ou geskiedenis. Maar is jy daarvan bewus dat die geskil wat ontstaan het nog lank nie besleg is nie?
Soos jy moontlik weet, dink miljoene dat Jesus vir hulle gesterf het. Hulle glo vas dat Christus se dood die sleutel tot verlossing en die vergifnis van sondes is, dat geloof in sy dood die middel tot redding is. Maar dit is verbasend dat ’n artikel in die Anglican Theological Review berig het dat hierdie gekoesterde leerstelling “moeilikheid” ondervind. En die “moeilikheid” kom van godsdiensleiers.
Die Anglican Theological Review verduidelik: “Die leerstelling van versoening in die denke van Christene ondervind moeilikheid omdat sy bybelse grondslag in die gedrang is, sy formulering is oorlaai met efemere [kortstondige] begrippe . . . , en in die volksgeestelikheid vind dit uiting in die vorm van persoonlike emosionalisme en onkritiese selfregverdiging.” Protestantse sowel as Katolieke teoloë het inderdaad nie daarin geslaag om enigsins eenstemmigheid te bereik oor wat, indien enigiets, die dood van Jesus Christus beteken nie.
Jy meen dalk dat dit net ’n gekibbel deur ’n paar teologiese vakkundiges is, dat dit nie betrekking op jou lewe het nie. Maar dink hieroor na: As Jesus se dood werklik verband hou met jou posisie voor God en jou vooruitsigte op ewige bestaan (in die hemel of op enige ander plek), dan moet jy hierdie geskil ondersoek.
Waarom stry teoloë steeds oor die saak? Beskou byvoorbeeld die Rooms-Katolieke Kerk. Dit het goed gedefinieerde leerstellings oor die onsterflikheid van die siel en oor die Drie-eenheid. Tog is die kerk besonder vaag wat verlossing deur Christus se dood betref. Die New Catholic Encyclopedia erken: “Baie en uiteenlopende stelsels is al bedink om te verduidelik hoe die mens van die kwaad van die sonde verlos word en weer genade verkry . . . Maar nie een van hierdie stelsels was heeltemal suksesvol nie. . . . Die teologie van die Verlossing is deels onopgeklaar en bly steeds ’n probleem in die teologie.”
Dit behoort jou dan nie te verbaas nie dat min van die miljoene wat vurig intoneer dat ‘Jesus vir ons gesterf het’ meer as ’n vae begrip het van wat dit werklik beteken. Soos die Anglican Theological Review dit stel: “Wanneer hy daarna gevra word . . . kan die gelowige Christen dikwels nie sê wat die bybelse bron van die leerstelling is of verduidelik hoe dit werk nie.” Omdat aanbidders in die kerke belas is met ’n leerstelling wat hulle nie verstaan en ook nie kan verduidelik nie, is dit vir hulle moeilik om te sien hoe Christus se dood hulle lewe raak.
Die Christendom se onvermoë om die leerstelling oor verlossing duidelik te omskryf, het ook haar pogings verydel om Jode, Hindoes, Boeddhiste en ander met die Christelike boodskap te bereik. Hoewel talle van dié mense baie van Jesus se leringe bewonder en respekteer, versper die verwarring rondom Christus se dood en wat dit beteken die weg na geloof.
Is die betekenis van Christus se dood bloot ’n verborgenheid—iets wat die mens nie kan verstaan nie? Of is daar ’n redelike, Bybelse verduideliking daarvoor? Dit is belangrik dat jy hierdie vrae ondersoek, want die Bybel maak hierdie verstommende verklaring aangaande Christus: ‘Elkeen wat in hom glo, sal nie verlore gaan nie maar die ewige lewe verkry.’—Johannes 3:16.