Vrae van lesers
◼ Waarom word 2 Petrus 1:19 in die New World Translation of the Holy Scriptures anders vertaal as in ander Bybels?
Die apostel Petrus het die waarde van God se geïnspireerde woord beklemtoon en geskryf: “Gevolglik is die profetiese woord vir ons vaster gemaak; en julle doen goed as julle daarop ag slaan soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en ’n dagster opgaan, in julle hart.”—2 Petrus 1:19, NW.
Let daarop dat die sinsnede “totdat die dag aanbreek en ’n dagster opgaan” tussen kommas staan. Die meeste Bybelvertalings doen dit nie.
Dr. James Moffatt vertaal byvoorbeeld die laaste gedeelte van die vers só: “ . . . dit skyn soos ’n lamp in ’n donker plek; totdat die Dag aanbreek en die dagster in julle harte opgaan”. Vertalings soos hierdie een laat die beskouing ontstaan dat die dagster in die harte van gelowiges opgaan, asof hulle ’n soort geestelike verligting ervaar.
Daar was egter selfs in die dae van Moses ’n aanduiding dat ‘’n ster uit Jakob’ te voorskyn sou kom. (Numeri 24:17; vergelyk Psalm 89:35-38.) Jesus het homself baie duidelik as daardie “geslag van Dawid, die blink môrester” geïdentifiseer.—Openbaring 22:16.
Hierdie identifisering van die “dagster”, of “môrester”, pas by die konteks van wat Petrus bespreek het. Hy het pas tevore na die gedaanteverwisseling verwys wat hy sowat 30 jaar vantevore gesien het (Mattheüs 16:28–17:9). Daardie glansryke visioen het heengewys op die tyd wanneer Jesus ‘in sy koninkryk sal kom’, of in Koninkryksmag verheerlik sal word. Wat Petrus gesien het, het die waarde van God se woord beklemtoon; net so moet Christene vandag aandag skenk aan daardie profetiese woord.
Terwyl die harte van die mensdom oor die algemeen in donkerte was—en steeds is—hoef dit nie met ware Christene die geval te wees nie. Dit is asof hulle ’n lamp het wat skyn waar dit andersins in hulle harte donker sou wees. Petrus het geweet dat Christene wakker sal bly en verlig sal bly tot die dagbreek van ’n nuwe dag as hulle ag slaan op die profetiese woord van God wat soos ’n lig skyn. Dan sal die “dagster”, of “helder oggendster”, in werklikheid in Koninkryksmag heers.
Dit is interessant dat E. W. Bullinger oor 2 Petrus 1:19 geskryf het: “Hier is dit baie duidelik dat daar ’n parentese moet wees, want profesie is die lig wat skyn, en Christus en Sy verskyning is die Dagster en die Dagbreek. Dit kan tog seer sekerlik nie beteken dat ons aangemoedig word om op die profetiese woord ag te slaan totdat Christus in ons harte geopenbaar word nie! Nee; maar ons moet in ons harte ag slaan op hierdie profetiese woord totdat dit vervul word met die verskyning van Christus—die opkoms van Hom wat ‘die Môrester’ genoem word.”—Figures of Speech Used in the Bible, 1898.
Gevolglik gebruik ’n aantal Bybelvertalings parentese by 2 Petrus 1:19.a Die New World Translation of the Holy Scriptures behou die basiese woordvolgorde wat in die oorspronklike Grieks gevind word. Maar dit gebruik kommas om die sinsnede “tot die dag breek en ’n dagster opkom” te skei van die vermaning om ag te gee op die woord ‘soos op ’n lamp wat in ’n donker plek, in julle harte, skyn’.
[Voetnoot]
a Sien byvoorbeeld The Twentieth Century New Testament (1904-uitgawe), The Emphatic Diaglott (1942-uitgawe), Concordant Literal New Testament (1976).