“Trane van waardering”
“EK HET so pas die artikel ‘Help teneergedruktes om hul vreugde te herwin’ met trane van waardering gelees” (Die Wagtoring, 15 Maart 1990, bladsye 26-30). Een van die talle briewe van waardering wat die Genootskap ontvang het vir die artikels oor depressie wat in ons nommers van 1 Maart en 15 Maart 1990 verskyn het, het met hierdie woorde begin. Maar hierdie spesifieke brief het van ’n suster in Japan gekom wie se jong seun onlangs aan skisofrenie begin ly het. Sy verduidelik:
“Omdat ek elke dag ’n terneergedrukte moet troos en aanmoedig, voel ek soms te uitgeput om verder te gaan. Wanneer dit donker word, word my seun deur vrees en angs oorval. Dan gee ek vir hom slaappille en sit langs sy bed en vryf sy hande en sit my hand op sy voorkop tot hy aan die slaap raak. Dit is soos om ’n baba in die bed te sit, en na ’n uur of wat raak hy eindelik vas aan die slaap. Dan voel ek verlig, maar terselfdertyd sê ek vir myself dat môreoggend maar net nog ’n dag sal bring om deur te kom.
“My seun sê: ‘Ek is niks werd nie. Daar is geen hoop vir my nie.’ Elke dag vra hy hartseer: ‘Sal ek gesond word? Wanneer sal ek nie medisyne hoef te drink nie? Hoe lank sal hierdie soort lewe aangaan?’ Dan gebruik ek vrae om sy denkwyse te verander, soos die tydskrifte voorgestel het, en dit help hom om ’n bietjie beter te voel. Maar ons gaan elke dag deur dieselfde dinge.
“Daar is ook tye wanneer my seun ouere manne [van die plaaslike gemeente] in die middel van die nag bel wanneer hy besonder angstig voel en hulle vra om vir hom te bid. Dit lyk asof dit hom grootliks vertroos en kalmeer. . . . My seun se toestand vererger dikwels wanneer my man (wat nie ’n Getuie is nie) op sakereise weg is. Wanneer ek per telefoon hulp vra, kom baie broers na ons huis toe.
“Broers, ek dank julle uit die diepte van my hart omdat julle hierdie soort artikels van tyd tot tyd druk en wys dat julle besorg is oor die behoeftes van die swakkes.”
[Geteken] H. H.