“Ons het nou ons eie Koninkryksaal”
DAAR is al baie gepubliseer oor snelgeboude Koninkryksale in lande soos Groot-Brittanje, Kanada en die Verenigde State. Die feit dat snelgeboude plekke van aanbidding vir Jehovah se Getuies al dekades lank in die sogenaamde ontwikkelende lande opgerig word, is egter minder bekend.
In Afrika-lande rig die plaaslike Getuies dikwels binne ’n paar weke tydelike fasiliteite op vir streekbyeenkomste. Dit het nie alleen gedien as plekke vir vergaderinge en beskuttings teen die skroeiwarm tropiese son nie, maar ook as verblyfplekke vir die byeenkomsgangers. Soortgelyke ondervindinge kan van Sentraal-Amerika vertel word.
In Guatemalastad, Guatemala, is ’n bydrae van R520 byvoorbeeld aan die Vivibien-gemeente van Jehovah se Getuies gestuur. Toe ’n plaaslike Getuie ’n erf in ’n plattelandse gebied aangebied het, het die Getuies besluit om die bydrae te gebruik om ’n eenvoudige gebou op te rig wat vir hulle vergaderinge gebruik kon word.
Bamboes moes tot op ’n hoogte van 1,5 meter vir die omheining gebruik word; daarbo was oop ruimte vir ventilasie. Daar is besluit dat die struktuur 4 by 6 meter groot moes wees. Toe die gemeentelike ouere manne die perseel besoek het, het hulle tot hulle verbasing etlike hopies bamboes, 6 meter tot 9 meter lank en 8 sentimeter tot 13 sentimeter in deursnee, voor die stuk grond aangetref. ‘Waarom bou ons dit nie volgende Saterdag nie?’ het hulle gesê.
Die volgende Woensdagaand is bouplanne opgetrek. Donderdag het een broer die sinkplate vir die dak, ’n ander die timmerhout en ’n ander die spykers gekoop. Teen Donderdagmiddag was die hout klaar gesny, en het hulle die A-raam-dakkappe gemaak met ysterplate wat bygedra is. Teen Vrydagaand was die dakkappe gereed.
Vroeg Saterdagoggend het ’n vragmotor die dakkappe en ander timmerhout, die dakbedekking en spykers na die dorp geneem. Vier voertuie het ongeveer 50 mans, vroue en kinders na die dorp vervoer. Teen 8:00 vm. was almal daar.
Die hoofstutpale is in gate gesit wat uit die harde vulkaniese rots gebeitel is. Die Getuies het vooraf 50 bamboesstingels van die eienaar van die bamboesbos gekoop teen 30 sent elk—’n totale belegging van R15. Die bamboes is vinnig met kapmesse afgekap. Dit is met handsae in lengtes van 1,5 meter gesaag en middeldeur gesplit.
Terwyl die dakkappe in posisie gestel is, het ander hande die gesplete bamboes vertikaal aan dwarspale vasgespyker, die helfte aan die buitekant en die helfte aan die binnekant, sodat die aantreklike geronde bamboes sowel die binnemure as die buitemure sou versier. Daarna is die dakbedekking opgesit, terwyl ander broers die klip en grond gebring het om die grondvloer gelyk te maak. Die gebou wat in 12 uur opgerig is, was klaar voor dit donker was, en die broers het met vreugdevolle harte na hulle huise in die stad teruggekeer.
Later is dennenaalde oor die grondvloer gestrooi, en ’n paar opvoustoele en ’n paar bamboesbanke, wat van die ongebruikte bamboesstingels gemaak is, is in posisie gestel. Toe was die Koninkryksaal gereed vir die eerste vergadering.
In baie lande van die trope—Afrika, die Pasifiese en Karibiese eilande, Asië, Mexiko, Sentraal- en Suid-Amerika—waar daar moontlik ’n miljoen Getuies van Jehovah woon, het sulke eenvoudige geboue die plaaslike Getuies groot vreugde verskaf omdat hulle kon sê: “Ons het nou ons eie Koninkryksaal.”